Boorgatwater besoedeling: Wat staan jou te doen
Diegene wat bekommerd is oor die langtermyn gesondheidsimplikasies van chloorinname, kan waterstofperoksied oorweeg.
Die burgerregteorganisasie Afriforum het verlede week gewaarsku dat resultate van monsters van drie van die vier boorgate in Parys wat getoets is, gewys het dat die water nie geskik is vir menslike gebruik nie. Die monsters is deur Envirocare, ‘n geakkrediteerde laboratorium in Potchefstroom ontleed vir basiese mikrobiologiese tellings, wat insluit die totale bakteriologiese plaatjietelling, totale koliforme, fekale koliforme, en E.coli.
Drie boorgate het verskeie tellings gehad wat die standaard vir menslike gebruik oorskry, insluitent een wat positief getoets het vir E.coli.
Om die resultate te bevestig is twee opvolgmonsters Vrydag geneem van twee van dieselfde boorgate. Beide opvolgmonsters het positief getoets vir E.coli. Volgens Johan Smit, raadgewende hidrogeoloog van Parys, is daar met die opvolgmonsters toegesien dat steriele monstersakkies gebruik word om enige moontlike besmetting van die monsters te vermy, juis omdat die regte hanteringsprotokol so belangrik is as getoets word vir bakteriologiese orgnamismes soos E.coli.
Hy verduidelik wat die resultate van die monsters wat geneem is, vir boorgateienaars beteken:
Wat is E.coli?
Escherichia coli, oftewel E.coli, is bakterieë wat natuurlik in die laer ingewande van warmbloedige organismes soos die mens voorkom, en dus ook in menslike uitskeiding voorkom. Daarom word enige E.coli wat in grondwater gevind word, gesien as ‘n moontlike aanduider van rioolbesoedeling.
E.coli kan in groot hoeveelhede ‘n gesondheidsgevaar inhou, wat lei tot maagwerkings, ontwatering en in uiterste gevalle, sterftes.
Hoe beland dit in die grondwater?
Wanneer daar ‘n rioolstorting plaasvind, hetsy uit ‘n bogrondse mangat of deur ‘n pyplekkasie ondergrond, kan groot volumes rou riool in die omgewing beland. Bogrondse rioolstortings word aan die son se ultraviolet strale blootgestel wat ‘n natuurlike kiemdodende effek het. In groot hoeveelhede kan dit egter onder die regte toestande die grondwater bereik, en besmet met E.coli.
Dit is veral die geval wanneer goeie reën geval het, en die infiltrasie en grondwatervlakke hoër as normaal is.
Wanneer dit ondergronds besoedel uit lekkende rioolpype, gaan dit dikwels ongesiens verby, tensy dit bogronds begin uitsypel, of wanneer tekens in boorgate bespeur word.
“Die E.coli wat in twee van Parys se boorgate gevind is, is heel waarskynlik toe te skryf aan die onlangse reënval, wat rioolvolumes verhoog het wat tot stortings gelei het,” verduidelik Smit.
Wat staan my te doen?
Smit sê dit is belangrik dat die publiek bewus is hiervan, maar nie paniekerig moet raak nie. “Dis een van die maklikste dinge om te behandel deur net die water in jou opgaartenk te ontsmet. Die goedkoopste manier vir munisipaliteite om drinkwater te ontsmet, is met chloor. Jy kan gewone swembadchloor in jou tenk gooi (ongeveer 25g per 5 000l tenk, (omtrent ‘n eetlepel),” is sy raad.
“‘n Makliker alternatief is chloorpilletjies wat by hardewarewinkels verkoop word, en spesifiek ontwerp is vir die doel.
Daar is pilletjies vir groot opgaartenks, sowel as kleiner huishoudelike waterhouers,” sê Smit.
“Diegene wat bekommerd is oor die langtermyn gesondheidsimplikasies van chloorinname, kan waterstofperoksied oorweeg. Dit is ‘n sterk oksideermiddel maar breek af in natuurlike suurstof en waterstof. Hardewarewinkels verkoop 50% gekonsentreerde peroksied in 5 liter houers wat ook vir swambaddens bedoel is. Jy gaan omtrent 200ml benodig om ‘n 5 000l tenk te ontsmet, maar gebruik dit uiters versigtig aangesien dit die vel en oë kan brand. Verdun dit verkieslik voor jy probeer toedien.”
Volgens Smit gebruik meeste huishoudings omtrent 1 000 liter per dag – dus is dit nie nodig om elke dag te ontsmet nie. “Een of twee keer per week behoort voldoende te wees,” sê hy.

Wat van die bron?
As gemeenskap is dit belangrik vir ons om die bron te bepaal. Dit kan ‘n intensiewe studie behels wat privaatbefondsing gaan benodig, maar met die hulp van die gemeenskap kan dit bepaal word. Die twee boorgate wat besoedel was is tussen Grens- en Delverstraat, en Eerste en Derde Laan.
As jy in hierdie omgewing bly en wil seker maak van jou boorgat se kwaliteit, kan jy self ‘n monster neem in ‘n steriele houer. Dit moet direk uit die boorgat geneem word, en nie uit die tenk nie. Laat loop die boorgatpomp vir ongeveer vyf minute, en neem dan ‘n monster uit ‘n kraan of aftappunt voor dit in die tenk of deur ‘n filter gaan, anders gaan dit nie verteenwoordigend wees nie.
Die monster moet verkieslik in ‘n koelhouer met yspak dieselfde dag by die laboratorium ingehandig word om te keer dat enige bakterieë tyd het om te vermeerder. Die naaste geakkrediteerde toetslaboratorium is Envirocare in Du Plooystraat 6 in Potchefstroom. Versoek ‘n basiese mikrobiologiese ontleding.Vir navrae, of hulp met monsters neem, kan lesers Smit kontak.
Kontak hom ook met jou boorgat se uitslae, sodat ‘n databasis opgebou kan word van waar orals besoedeling mag wees, en hopelik die bron so opgespoor en aangespreek kan word. Smit se kontakbesonderhede is 0832044674, of stuur e-pos na Johan@tsunamiresources.com

Johan Smit het sy graad in M.Sc Omgewingswetenskappe (Hidrologie en Geohidrologie) aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus verwerf. Hy is ‘n raadgewende hidrogeoloog van Parys, en is die afgelope bykans 20 jaar in die dorp gevestig. Johan kan geskakel word by 083 204 4674, of stuur e-pos na johan@tsunamiresources.com



