BEK-krisis kan vleisbedryf op sy knieë dwing: Boere het nie meer tyd om te wag nie, sê VL
Die organisasie het vandeesweek opnuut gevra dat daar dringend in die belang van die boere opgetree sal word om die Bek-en-klouseerkrisis tot ’n einde te bring.
Vrystaat Landbou het hom skerp uitgespreek oor die ‘staatsmonopolie oor die bek-en-klouseerkrisis’. Die organisasie sê hy voel sterk daaroor dat boere toegelaat moet word om so vinnig moontlik hul vee in te ent om die onbeheerde verspreiding van Bek-en-klouseer (BKS) te stuit. Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, waarsku dat sou dit nie gebeur nie, die hele land se vleisbedryf op sy knieë gedwing sal word.
Hoewel BKS ’n staatsbeheerde siekte is, is daar tans geen beheer oor die verspreiding van die siekte nie, het die organisasie in ‘n verklaring gesê.
Volgens VL is huidige protokolle en regulasies wat toegepas word, verouderd en geskryf vir ’n land met BKS vry-status, maar dat die siekte lankal uit die rooilyn gebied is weens die versuim om dit behoorlik daar te hou.
Die organisasie wys ook daarop dat die beweging van diere nie gestop kan word nie omdat die SA kultuur dit nie moontlik maak om effektiewe beheer te kan uitoefen nie.
VL is verder van mening dat biosekuriteit en die klem wat daarop geplaas is die afgelope tyd, geen verskil gemaak het om die volgehoue verspreiding van die virus te keer nie. “Ons kan nie meer boere se plase toe maak nie – ons moet dadelik begin inent. Die veebedryf se ekonomiese volhoubaarheid en voortbestaan is onder beleg”, meen Friedl von Maltitz, vise-president van VL.
“Ons – dit wil sê al die veeboere van die land – kan nie vir ’n 10 jaar plan wag nie! Dit is
nou oorlog teen die virus en ons kan nie alleen van die staat afhanklik wees nie. Die
staat se huidige hantering van die saak is aanduidend van hulle tekortkominge wat betref
kapasiteite en sisteme wat heeltemal verval, en het hulle realisties nie die vermoë om die
siekte onder beheer te bring nie,” het Wilken bygevoeg.
Hy sê dit word bevestig in die verslag van 18 Mei 2022 deur die taakspan oor diere-biosekuriteit, opgestel deur die voormalige Minister van Landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling (DALRAD), minister Thoko Didiza.
Die Taakspan het drie kwessies ondersoek, naamlik:
a) die verandering in die epidemiologiese evolusie van dieresiekte-uitdagings,
b) die land se vermoë om sulke siektes betyds te diagnoseer, en
c) die land se gereedheid om realistiese en wetenskaplik regverdigbare remediërende
biosekuriteitsmaatreëls in plek te stel.
Die hoofbevinding van die taakspan was dat die land in al drie hierdie take misluk
het.
“Dit is dus duidelik dat die staat nie oor die kapasiteit beskik om ’n nasionale
entingstrategie op groot skaal effektief uit te rol of te beheer nie. Die hantering van
COVID-19 het verder gewys hoe biljoene rande verlore gegaan het weens korrupsie en
oneffektiewe regeringsverkrygings-, verspreidings- en beheermeganismes.” sê Wilken.
VL dring aan op:
• die onmiddellike beskikbaarstel van entstowwe deur middel van privaat
instansies om die gepaste entstof wat reeds beskikbaar is uit die buiteland in te
voer
• die entstof onmiddellik beskikbaar te stel aan boere om aan te koop en toe te dien
Volgens Vrystaat Landbou is die tyd vir praat lankal verby. “Boere het nie meer weke of maande om te wag nie, slegs ure! Daar moet dadelik opgetree word.”



