Jong ma se angs toe bye haar oorval
Bye kan baie gevaarlik wees. Kry eerder hulp en raad van 'n byeboer met die nodige kennis en ervaring.
Toe Clarissa Nienaber vroeër die week deur bye oorval is toe sy die motorhek by haar huis in President Brandweg wou oopmaak, was haar eerste gedagte om weg te kom van die bye wat oral om haar motor was. Sy het teruggespring in die motor, maar in haar haas haar motorsleutels op die plaveisel laat val. Gelukkig was haar selfoon in die motor.
Gestrand sonder haar sleutels, het sy wetend dat sy allergies vir bysteek is, hulp op die Misdaad Nood WhatsApp-groep gevra.

Fanie Kruger van Security Master was gou by haar en kon haar sleutels vir haar gee, met die raad dat sy moes ry om van die bye om die motor te probeer ontslae raak. Die hulp van ‘n byeboer is ook gevra om te help met die bye. Hoewel sy ongedeerd is, was dit ‘n angservaring wat sy nie gou weer wil beleef nie.
Clarissa vertel dat sy die oggend haar kinders by die skool gaan aflaai het en toe dorp toe is. Toe sy by die huis weg is, was daar geen teken van bye nie, en het sy ook nog nooit las gehad van bye nie. Met haar terugkeer was dit egter ‘n ander prentjie met hordes bye wat skielik in haar erf was.

Die mees logiese verklaring is dat dit waarskynlik ‘n nood hervestiging was, verduidelik Frances Hutton, ‘n plaaslike byeboer met jare se ervaring. Nood hervestiging gebeur wanneer bye bedreig voel, met ander woorde gepla is waar hul gevestig was.
Hervestiging gebeur ook tussen September en November as deel van bye se natuurlike voortplantingsproses. “Van die bye van ‘n korf kan dan afstig om ‘n nuwe korf te vestig. Met die hervestiging is die bye gewoonlik agressief en sien jy meer probleme met bye in hierdie maande,” verduielik Frances.
Bye – wat nou?
Ongelukkig is daar nie veel om te doen wanneer daar skielik ‘n klomp bye om jou is nie, behalwe om so gou moontlik weg te kom en verkieslik na ‘n donker plek te beweeg. “Selfs die skadu van ‘n boom mag dalk help omdat bye eerder na lig beweeg,” verduidelik Frances.
Moenie probeer om vir die bye weg te hardloop nie, want hulle sal jou meters ver volg. Moet hulle nie pla deur plaagdoder te spuit nie. Dit kan hul meer agressief maak.
Bye kan baie gevaarlik wees. Kry eerder hulp en raad van ‘n byeboer met die nodige kennis en ervaring.
“Moenie probeer om die bye self te verwyder nie, want as jy nie die nodige kennis het nie, keer hulle eenvoudig terug na die nes,” waarsku Frances.
Byeboere het gespesialiseerde kennis en is daarom nie altyd geneë om sonder vergoeding te help waar mense probleme met bye het nie. Wees voorbereid daaroop dat jy vir die diens, soos vir alle ander dienste sal moet betaal.
Hoekom is bye belangrik?
Hoewel bye in Suid-Afrika nie as ‘n bedreigde spesie beskou word nie, wil dit lyk asof die klein, maar baie nuttige insek in ons ekosisteem, stadig besig is om regoor die wêreld uit te sterf. Juis daarom is dit egter ook belangrik dat ons bye moet beskerm.
Bye help om plante en gewasse lewend te hou deur bestuiwing. Bestuiwers dra stuifmeel en sade oor van een blom na die volgende, en bestuif die plante om te groei en voedsel te produseer. Kruisbestuiwing help ten minste 30% van die wêreld se gewasse en ten minste 90 % van ons wilde plante floreer as gevolg van bye.
As bye nie saad versprei nie, sal die meeste van ons plante en gewasse uitgewis word. In die Vredefort Koepel-area is ons nog gelukkig om heelwat bye hier in die natuur te hê. Om bye aan te hou moet jy egter volgens Suid-Afrikaanse wetgewing geregistreer wees by Departement Landbou.



