Perfekte tydsberekening
Deel gerus met ons jou besondere foto's wat jy deur jou kameralens vasgevang het. Foto's kan gestuur word na gazettenuus@gmail.com
Plaaslike fotograwe het die afgelope week weer gesorg vir uitstaande foto’s van oomblikke wat deur die kameralens vasgevang is. Dié besonderse maanfoto is Dinsdag deur Parysenaar Johan Smit geneem.

Johan is nie net ‘n ervare hidrogeoloog nie. Hy is ook ‘n talentvolle fotograaf met ‘n oog vir ‘n besondere foto. Fotografie is vir hom ‘n stokperdjie en neem hy graag foto’s van natuurtonele en landskappe.
Sy mooiste landskapfoto’s het hy in die herfs in die Drakensberge geneem, asook in die Overbergstreek waar die Langeberge ‘n dramatiese agtergrond skep vir goudgeel canolalande en grasgroen koringlande in die winter.

Vra jy hom wat die geheim vir ‘n goeie foto is, sê Johan die belangrikste is die komposisie en beligting, soos mooi sagte lig met ‘n sonsondergang. Natuurlik kan ‘n ongewone gebeurtenis soos volmaan of weerlig dramatiese foto’s oplewer, maar die gewone landskappe kan mooi weergegee word met die regte beplanning en komposisie, is sy raad vir amateur fotograwe.

Gaan kyk na Johan se foto’s op sy Facebook-blad met die naam Noah’s Art. Die skakel is https://www.facebook.com/share/1Cns7ACR15/
Nog ‘n Parysenaar, Annemarie Ferreira, het ‘n fyn oog vir detail en vang sy dikwels die mooi van die natuur vas deur haar kameralens. Sy het die kleurvolle foto’s op 29 Maart langs die R42 onderweg van Vaalpark na Potchefstroom geneem.


Verlede Sondag se donker reënwolke, en net daarna die mooiste reënboog, en ‘n asemrowende sonsondergang. ‘n Ongelooflike skildery van kleur – alles binne die verloop van ‘n uur. Martenie en Danie het die prag foto’s op die plaas Koedoesfontein geneem.







