Dit is amper tyd om jou gunsteling sakeondeneming in Parys te nomineer
Nominasies kan vanaf 13 April gedoen word.
Daar is niks wat kom by uitstaande kliëntediens nie. Juis daarom gee MooiVaal Media, eienaar van Parys Gazette, weer vanjaar lesers geleentheid om deel te neem aan ‘n projek om erkenning te gee aan uitblinker-sakelui in Parys.
Die dorp se sakegemeenskap speel ‘n deurslaggewende rol om werk te skep en die dorp se ekonomiese wiele aan die rol te hou.
Deur middel van die Best of Parys Readers’ Choice Awards sal daar weer erkenning gegee word aan plaaslike besighede wat met toewyding, integriteit, harde werk en uitstekende dienslewering ‘n goeie naam in Parys opgebou het – hetsy dit koffiewinkels, restaurante, gastehuise, apteke, eiendomsagentskappe noem maar op, of enige ander private onderneming is.

Nominasies sal vanaf 13 April gedoen kan word. Let daarop dat die kompetisie in digitale formaat is, en dat slegs digitale nominasies aanvaar sal word sodra die nominasieproses begin.
Jy sal besighede in verskeie kategorieë kan nomineer. Sodra nominasies gesluit het, sal lesers aanlyn stem vir die wenners van die onderskeie kategorieë.



