Mimosa se mix, waterglybaan en duikplank laat vakansiegangers tou staan
Hierdie berig vorm deel van Parys Gazette se bylaag ter viering van Parys se 150ste bestaansjaar. Jy kan die volledige bylaag lees by https://www.citizen.co.za/parys-gazette/epapers/parys-150-jaar/
Vakansies en naweek uitstappies na die Mimosa Tuine, piekniek op die Vaalrivier-oewer, hengelaars
wat staan en lyn natmaak, vermaak vir oud en jonk, ’n spogrestaurant en teekamer, ‘n drievlak duikplank,
olimpiese grootte swembad en waterglybaan. Dit was wat Parys oor die land bekendgemaak het.
In die Outeniqua Vervoermuseum in George pryk daar steeds ‘n plakkaat wat uitstappies van Johannesburg na die Mimosa Tuine in Parys geadverteer het.

Van die eens spogoord wat ‘n groot inkomste vir die dorp was, is nou net ’n skadu oor, hoewel die Ngwathe-munisipaliteit in 2023 ‘n daadwerklike poging aangewend het om die oord skoon te maak en verskeie pleidooie al gerig is om die oord as publieke/private vennootskap te bedryf.
Bennie Pretorius, jarelange inwoner en sakeman van Parys onthou hoe hy as kind destyds vir sakgeld deurnag moes help om karavaanstaanplekke aan te wys. Baie besoekers aan die dorp en inwoners onthou die kuiers by die Mimosa Tuine se Mix, die trapbootjies, en karavane wat ingestroom het oor ‘n Paasnaweek en tou gestaan het tot by die vierrigtingstop by Boom- en Father Balinkstraat.
So het die Mimosa Tuine begin
Die Parys-munisipaliteit het destyds soos daar tekort aan erwe was, erwe opgemeet en teen ‘n minimale bedrag verkoop. Omdat geglo is dat die ontwikkeling van die Johannesburgse goudvelde van korte
duur sou wees, het die munisipaliteit alle moontlike grond verkoop om die munisipaliteit se finansies stabiel te hou. Die twaalf erwe wat vandag Mimosa Tuine uitmaak, is destyds teen vyf pond per erf verkoop, wat vandag gelykstaande sou wees aan ‘n skamele R10 of R12.
Van die eerste pogings om toeristebedrywighede in die dorp aan die gang te kry was ‘n paar rondawels op Boseiland. Die eilandskema was egter nie baie suksesvol nie, want wanneer die Vaalrivier se watervlak in vloedtye gestyg het, kon mense nie by die eiland kom nie.
Mettertyd is ‘n boot- en swemklub gestig en was die dorp toe reeds bekend as swemparadys.
In 1911 verskyn die eerste advertensie van Parys in die Bloemfontein Post, en in 1915 is R12 geskenk vir die oprig van ‘n duikplank.

Foto: Transnet Heritage Library, Johannesburg
Ontspanningsgeriewe is verbeter en die bou van ‘n keerwal het in 1920 ter sprake gekom om die probleem te oorkom met rotse wat bo die water uitgesteek het en roei bemoeilik het.
Die werklike oplewing in Parys se toerismebedryf het na 1951 gekom. Kort voor lank was die dorp bekend as die Pêrel van die Vaal met die Mimosa Tuine wat nadat die brug oor die Vaalrivier gebou is, ontwikkel het tot ‘n gewilde binnelandse ontspanningsoord.
Parys se sentrale ligging het baie hiertoe bygedra, en is erwe langs die rivier beskikbaar gestel as
kampeerplek.

Die bekende duikplank het met die 1975-vloed weggespoel en is nooit vervang nie.
Tot ongeveer 2008 is die Mimosa Tuine winsgewend bedryf deur Johan Bester wat die oord vir nagenoeg 20 jaar by die munisipaliteit gehuur het.
Lees die volledige bylaag by die skakel hieronder.
https://www.citizen.co.za/parys-gazette/epapers/parys-150-jaar/



