Monument-boodskappe in dié graad eens se matriekjaar gelees
Die monument op die skoolterrein is destyds onthul vir die 100ste herdenking van die Groot Trek.
Vanjaar se graadeen-leerders sal as matrikulante geskiedenis maak wanneer hulle die voorreg sal hê om die briewe te lees wat 100 jaar tevore deur skoliere van Hoërskool Parys geskryf, en in ‘n geheime spasie in die klipstapel-monument in die skool se Tuin van Herinnering geplaas is.
Die monument naby die skoolsaal is gebou en onthul vir die 100ste herdenking van die Groot Trek in 1938.
Marie van der Merwe van Amot het destyds in 2019 vertel hoe sy (toe nog ‘n nooi, Briel) en haar skoolmaats, elkeen ‘n klip van die huis of plaas af skool toe moes bring, wat deel sou vorm van die klipstapel. Twee ossewaens, die Andries Pretorius-wa en die Hendrik Potgieter-wa het die dorp op 28 Oktober 1938 besoek. Voor die klipstapel is ‘n sementblad voorberei. Die osse het die wa oor die nat sement getrek en die os- en wawielspore gelaat wat vandag nog daar gesien kan word.

Die skoolkinders het ook ‘n gelofte afgelê wat geraam is en pryk teen die muur van die skoolhoof se kantoor.
Volgens Marie was dit die destydse skoolhoof, mnr. Van Huyssteen, wat die hele geleentheid gereël het.
Dit was ook die skoolhoof wat opdrag gegee het dat die matrieks van 100 jaar later die boodskappe wat versteek is in die monument, mag uithaal en lees.

Die geboorte en groei van Hoërskool Parys
Die eerste goewermentskool in Parys is in 1883 in gebruik geneem, met mnr. W.R van der Merwe as onderwyser, en 48 leerlinge in die skool. Dit het egter nie baie goed gegaan met die skool nie, want die ouers was arm en kon nie skoolgeld betaal nie.
Die volgende jaar het dit nog swakker gegaan, en die leerlingtal het gekrimp tot 26, en nog later tot 20.
In 1888 het die munisipaliteit ‘n bedrag geld vir die oprigting van ‘n skool beskikbaar gestel.
Voorheen is die kerkgebou, en private kamers as skoolgebou gebruik. Hierdie ‘skoolgebou’ het later ‘n slaghuis geword.
Ná die Anglo-Boereoorlog was die gebou te klein en is die ou polisiekantore as skoolgebou gebruik.
Die skoolhoof na die oorlog was mnr. D.C. Flett. Daar was toe sowat 300 leeerders, maar die skoolbesoek was maar “erg ongereeld,” met ‘n gemiddeld van 100 kinders per dag afwesig!
In 1905 is die huidige hoërskool se sentrale gedeelte met sandsteen gebou. Daarna is verskeie kere by die skool aangebou.
In 1931 kry die skool ‘n skoollied, geskryf deur prof. Benedictus Kok. Hy gee ook die bewoording “Suum Cuique” op die skoolwapen.
In 1935 verskyn die skool se eerste jaarblad. In die welkomswoord van die destydse Direkteur van Onderwys, mnr. Henri Pellissier, sê hy tereg: “Dit is ‘n maklike taak om oor te gaan tot die uitgee van ‘n skoolblad, maar dit is baie moeiliker om daarna jaarliks vol te hou met wat begin is.”
Die jaarblad het inderdaad elke jaar daarna verskyn, behalwe gedurende die oorlogsjare.
In 1946 het die skool geskei in ‘n laerskool (die Volkskool) en die hoërskool soos ons hom vandag ken, met mnr. J. van Huyssteen as skoolhoof.
In 1954 word die eerste leerlingraad gekies, en in 1955 word die nuwe skooldrag in gebruik geneem.
In April 1958 word die pawiljoen ingewy en vernoem na een van die geliefde onderwysers, Danie Heese.
In 1960 word die nuwe skoolsaal, die Wessel Steyn-saal, ingewy en in 1972 word die dubbelverdiepings met laboratoriums aangebou.
(Bronne: Skoolgeskiedenis – Hoërskool Parys jaarblad 2008; Spesiale dank aan Marli Kruger vir die inligting en foto van Marie van der Merwe)
Uit die argiewe

Lees meer oor die geskiedenis van Parys by https://www.citizen.co.za/parys-gazette/epapers/parys-150-jaar/



