Pothole braai maak werk van krater gate
Vir jare al sukkel inwoners van Schilbachstraat met die erg vervalle toestand van die pad en is vanoggend plan gemaak om dit weer rybaar te kry.
As die gate kraters word en daar meer gat as pad is, dan moet daar plan gemaak word, want Schilbachstraat se gate voor Blikoorjies-kleuterskool was selfs vir voetgangers en fietsryers al ‘n saak van onmoontlikheid om ‘n stukkie teer raak te trap.

Vanoggend het ouers en personeel van dié kleuterskool hande gevat om jare se verval van dié pad reg te maak. Van die inwoners in die straat het ook bygedra, en is vooraf deeglik beplan hoe die groot taak aangepak sou word.


Al die materiaal vir die gatvasvat is geskenk en is die plan om reg te maak van Grens- tot by Uniestraat.




Tussendeur die harde werk is die braaivleisvure gestook en het die vreugdevure hoog gebrand want vir die eerste keer sal hier nie meer vir kraters in dié straat gekoes hoef te word nie.




