Hof straf man swaar ná aanval op baba en bejaarde ouma
Hoewel die baba geen beenbreuke opgedoen het nie, het die hof bevind dat die daad sy lewe ernstig in gevaar gestel het.
‘n 45-Jarige man is tot altesaam 22 jaar gevangenisstraf gevonnis vir poging tot moord van sy 10 maande oue babaseun en aanranding van die kind se 69-jarige oumatydens ‘n gesinsrusie in Tlokweng, naby Madikwe in die Noordwes-provinsie.
Die Streekhof in Madikwe het die man Vrydag, 17 Julie, skuldig bevind en gevonnis. Die waarnemende provinsiale kommissaris van die SAPD in Noordwes, genl.maj. (dr.) Ryno Naidoo, het die uitspraak verwelkom en die ondersoek- en vervolgingspan geloof vir hul werk.
Die voorval het op 4 Januarie 2024 plaasgevind toe die beskuldigde in ‘n woordewisseling met die moeder van die baba betrokke geraak het. Volgens getuienis het hy die 10 maande oue kind gegryp en met geweld op die grond neergegooi.
Hoewel die baba geen beenbreuke opgedoen het nie, het die hof bevind dat die daad sy lewe ernstig in gevaar gestel het.
Toe die kind se 69-jarige ouma probeer ingryp het om haar kleinseun te beskerm, het die beskuldigde haar met ‘n stok aangeval. Sy het breuke aan albei haar arms opgedoen.
Die man is twee dae ná die voorval, op 6 Januarie 2024, in hegtenis geneem. Borgtog is suksesvol teengestaan en hy het sedertdien in aanhouding gebly.
Die hof het hom tot 15 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis vir poging tot moord op die baba, en sewe jaar direkte gevangenisstraf vir aanranding met die opset om ernstig te beseer op die ouma. Die hof het hom ook ingevolge die Wet op Beheer van Vuurwapens onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Naidoo het speursersant McDonald Mosekwane van die Madikwe-speureenheid, advokaat Zola Mpayipheli van die Direktoraat van Openbare Vervolgings en alle ander rolspelers geloof vir hul professionele optrede wat tot die suksesvolle vervolging gelei het.
Hy het gesê die vonnis stuur ‘n duidelike boodskap dat geweldsmisdade, veral dié wat teen weerloses soos kinders en bejaardes gepleeg word, swaar gestraf sal word.



