Meesters van die Afrikaanse lied se nalatenskap verewig
Die FAK-Liedjietuin is geskep om liedjies en liedjieskrywers te vereer
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Vrydag 28 Augustus hulde gebring aan twee uitsonderlike legendes in die Afrikaanse musiekwêreld toe Christopher Torr en Anton Goosen tydens ’n besonderse geleentheid in die FAK-Liedjietuin by die Voortrekkermonument vereer is.
Die geleentheid het hulde gebring aan die twee kunstenaars se blywende bydrae tot die Afrikaanse liedkuns en die diepgaande invloed wat hul woorde en melodieë oor dekades heen op die Afrikaanse kultuurlandskap uitgeoefen het.
Die FAK-Liedjietuin is geskep om liedjies en liedjieskrywers te vereer wat deel van die Afrikaner se gedeelde kultuurerfenis geword het. Die lirieke van geliefde liedjies word op granietborde aangebring, sodat die verhale, herinnerings en emosies wat deur die liedjies vasgevang word, vir toekomstige geslagte bewaar kan word. Die toevoeging van nuwe liedjieborde vir Torr en Goosen het hierdie erfenis verder
uitgebrei.
Anton Goosen se Liedjieboer-erfenis
Anton Goosen, geliefd bekend as die “Liedjieboer”, het reeds twee liedjieborde in die tuin vir sy geliefde liedere “Blommetjie gedenk aan my” en “Ken jy Tant Mossie”.
Tydens Vrydag se geleentheid is vier verdere liedjieborde onthul, terwyl sy bestaande borde herposisioneer is om ’n toegewyde Anton Goosen-hoek in die tuin te vorm. Die nuwe borde bevat die lirieke van “Jantjie”, “Silver de Lange”, “Boy van die Suburbs” en “’n Brief vir Simone”.

vereer vir sy besonderse bydrae tot die Afrikaanse liedkuns. (Foto: Niël
Langner)
Die uitbreiding verleen verdere erkenning aan Goosen se buitengewone bydrae as een van die belangrikste vernuwers van Afrikaanse populêre musiek.
Vir bykans ses dekades het Goosen se liedjies die klankbaan van duisende Suid- Afrikaners se lewens gevorm. Sy vermoë om die gewone mens se ervarings, herinnerings en emosies in toeganklike, poëtiese lirieke vas te vang, het hom ’n unieke plek in die Afrikaanse kultuurlandskap besorg.
“Dit was werklik ‘n heuglike dag. Ek voel geweldig geëerd, want ek het met die FAK- Sangbundel grootgeword. Om te dink daar is 19 van my liedjies in hierdie boek, is reeds ‘n groot eer. Om met borde in die FAK-Liedjietuin vereer te word, is die kersie op die koek. Ek en die FAK loop ‘n lang pad en hoewel ons in die Woodstock-dae koppe gestamp het, kyk waar is ons nou. Ons werk saam aan die Afrikaanse taal en kultuur wat bewaar moet word vir die kinders wat nog gebore moet word,” sê
Goosen.
Christopher Torr se musikale nalatenskap
Christopher Torr, wat reeds met sy ikoniese lied “Stuur groete aan Mannetjies Roux” in die FAK-Liedjietuin vereer is, het op sy beurt twee bykomende liedjieborde ontvang. Die lirieke van “Stille Waters” en “Die Gang” is daarop aangebring.

Christopher Torr-hoek met die nuwe liedjieborde wat onder meer die lirieke
van “Stille Waters” en “Die Gang” langs sy reeds bestaande bord vir “Stuur
groete aan Mannetjies Roux” bevat. (Foto: Niël Langner)
Sy bestaande en nuwe borde is saam geplaas om ’n Christopher Torr-hoek in die
tuin te vorm.
Hoewel Torr internasionale aansien as akademikus en ekonoom geniet het, is dit ook sy nalatenskap as liedjieskrywer wat hom ’n besonderse plek in die harte van Afrikaanse musiekliefhebbers gegee het. Sy liedjies het oor dekades heen deel van die Afrikaanse kultuurerfenis geword.
Dat Afrikaans nie Torr se moedertaal is nie, maak sy bydrae soveel te meer merkwaardig. Sy liedjies het geslagte Afrikaanse luisteraars aangegryp en geïnspireer.
Musiek en huldeblyke sentraal tot die geleentheid
Musiek het ’n sentrale rol tydens die prestigegeleentheid gespeel, met uitvoerings van onder meer “Die Gang”, “Stille Waters”, “Silver de Lange” en “’n Brief vir Simone”. Die program het ook toesprake deur albei eregaste en die amptelike onthulling van die nuwe liedjieborde ingesluit

Hugo vier die historiese geleentheid saam. Foto: Niël Langner
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het die commendatio’s voorgehou en spesiale FAK-eerbewyse aan Torr en Goosen oorhandig.
Volgens Langner verteenwoordig die twee kunstenaars verskillende, maar ewe belangrike strome binne die Afrikaanse liedtradisie.
“Christopher Torr en Anton Goosen het elkeen op ’n unieke wyse gehelp om die Afrikaanse lied te vorm en te verryk. Hul liedjies het lankal die grense van individuele kunstenaarskap oorskry en deel geword van ’n veel groter gemeenskap se gedeelde geheue.”
Hy het bygevoeg: “Die FAK-Liedjietuin gaan oor meer as musiek. Dit gaan oor die stories, herinnerings en emosies wat deur liedjies oorgedra word. Deur hierdie twee musieklegendes te vereer, bewaar ons ook die kulturele erfenis wat hulle vir toekomstige geslagte nagelaat het.”
Verskeie bekende figure uit die Musiek-en-liriekbeweging het die geleentheid bygewoon, wat die besonderse status van die kunstenaars binne die Afrikaanse kultuurwêreld beklemtoon het.
– 3 –
Met die onthulling van die nuwe liedjieborde het die FAK nie net twee individue
gevier nie, maar ook die krag van die Afrikaanse lied – liedjies wat mense oor
geslagte heen verbind en steeds ’n belangrike deel van Suid-Afrika se kulturele
erfenis vorm.



