Belasting: Is alternatiewe dispuutbeslegging jou beste opsie?
’n Sterk dispuut word nie ’n swak een bloot omdat SAID die beswaar verwerp het nie.
’n Beswaar wat deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) verwerp word, kan ondernemings onder groot druk plaas om die belastingdispuut vinnig af te handel.
Alternatiewe Dispuutbeslegting (ADB/ADR) lyk dalk na die vinniger en goedkoper opsie, maar dit is nie noodwendig die beste opsie nie, waarsku Nico Theron, stigter van Unicus Tax Specialists SA.
Volgens SAID se 2024/25-jaarverslag is 97% van appèlle gedurende die verslagtydperk deur ADB opgelos. Theron sê dié syfer beteken egter nie dat belastingpligtiges bloot ADR moet kies omdat dit gewild is nie.
“Die eerste vraag behoort te wees of jy werklik ’n verdedigbare saak het en, indien wel, watter uitkoms jy wil bereik,” sê hy.
Nie ’n kortpad nie
ADB is ’n formele deel van die SAID-dispuutproses en bied belastingpligtiges en SAID die geleentheid om ’n dispuut te onderhandel voordat dit na die Belastingraad of Belastinghof gaan.
Die aard van die dispuut is egter belangrik. Feitelike geskille kan volgens Theron meer geskik wees vir ADR as sake wat hoofsaaklik oor die interpretasie van belastingwetgewing handel.
“’n Sterk dispuut word nie ’n swak een bloot omdat SAID die beswaar verwerp het nie,” sê hy.
Dink verder as die belastingbedrag
Ondernemings moet ook die koste en tyd van verdere litigasie, die sterkte van hul getuienis, die moontlikheid dat SAID sy standpunt kan verander en die kommersiële gevolge van ’n lang dispuut in ag neem.
“Skikking behoort ’n strategiese besluit te wees, eerder as ’n reaksie op druk,” sê Theron.
Hy waarsku ook dat ’n onderneming nie moet vergeet dat die oorspronklike beswaar reeds die grondslag vir die verdere dispuut gevorm het nie. Die aanvanklike gronde, getuienis en SAID se redes vir die verwerping daarvan moet dus deeglik hersien word.



