Seëlversamelaars vertel unieke erfenisverhaal tydens Erfenisdagfees
Die seëuitstalling kan van 24 tot 26 September in die Voortrekkersaal op die Voortrekkermonument-terrein besoek word.
Die Afrikaanse Filatelievereniging van Pretoria (AFP) bied van 24 tot 26 September ’n seël-uitstalling in die Voortrekkersaal by die Voortrekkermonument aan. Die uitstalling val saam met die Toeka tot Toekoms Erfenisdagfees op 24 September by die Kultuurtuiste en bied aan besoekers die unieke geleentheid om Suid-Afrika se geskiedenis, kultuur en identiteit deur die lens van filatelie te bewonder.
Hoewel posseëls dikwels bloot as versamelstukke beskou word, strek filatelie veel verder as die versameling van seëls. Elke seël, posstempel en posstuk vertel ’n verhaal van ’n bepaalde tyd, gebeurtenis, persoon of gemeenskap.
Hierdie klein historiese dokumente bewaar waardevolle insigte oor nasionale ontwikkeling, kulturele prestasies, tegnologiese vooruitgang en belangrike mylpale.
Besoekers sal ’n wye verskeidenheid versamelings kan besigtig, waaronder tradisionele filatelie, posgeskiedenis, tema versamelings, lug- en ruimtevaartfilatelie, eerstedagkoeverte, oop filatelie, poskaarte en ander gespesialiseerde vakgebiede. Die uitstalling bied ook ’n seldsame geleentheid om
unieke materiaal te sien wat normaalweg nie vir die publiek toeganklik is nie.

Die uitstalling vorm deel van die breër Erfenis 2026- inisiatief, ’n samewerkingsprojek tussen die AFP, die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK), die Erfenisstigting en die Filateliese Federasie van Suid- Afrika (PFSA), met die doel om die waarde van filatelie in die bewaring van geskiedenis en kultuurerfenis onder die publiek te bevorder.
’n Belangrike doel van die uitstalling is ook om nuwe versamelaars aan die wêreld van
filatelie bekend te stel. “Filatelie bied ’n unieke kombinasie van navorsing, geskiedenis, kultuur en bewaring, en ontsluit terselfdertyd waardevolle opvoedkundige geleenthede vir jongmense.
Die uitstalling sluit beide mededingende en niemededingende afdelings in. Dit bied aan gevestigde versamelaars die geleentheid om hul werk volgens internasionale standaarde te laat beoordeel, terwyl geesdriftiges hul passie vir bepaalde temas of geskiedkundige onderwerpe met die publiek kan deel.

Die publiek word genooi om die uitstalling van 24 tot 26 September in die Voortrekkersaal op die Voortrekkermonument-terrein te besoek. Toegang tot die uitstalling vorm deel van die uiteenlopende Erfenisdagaktiwiteite wat tydens die Toeka tot Toekoms Erfenisdagfees aangebied word.
Koop jou kaartjies vir die Toeka tot Toekoms Erfenisdagfees hier:
vtm.org.za/erfenisfees




