
Volgens die inwoner, mnr. Louis Nel, is hy verlede maand in kennis gestel dat drie lasbriewe vir sy inhegtenisneming oor onbetaalde spoedkaartjies uitgereik is. Hy het dié boetes, vir die bedrae van R400, R300 en R300, in April en Mei verlede jaar gekry.
“Wat ek nie kon verstaan nie, is dat ek nooit die aanmanings vir die boetes of dagvaardigings gekry het om in die hof te verskyn nie. Ek erken dat ek soms te vinnig ry, en het nog nooit ‘n probleem gehad om my boetes te betaal nie,” sê hy.
Nel het toevallig ook ‘n ander boete in April verlede jaar ontvang, maar dit dadelik betaal toe hy ‘n aanmaning gekry het.
Nel het egter op iets ongewoon afgekom toe hy verder ondersoek begin instel het.
Volgens die kontrakteur wat deur die munisipaliteit aangestel is om die aanmanings en dagvaardigings af te lewer, het hy wel vir die dagvaardigings geteken. Die hantekening op die dokumente is egter, hoewel dit in sy voorletters en van, LJ Nel, gedoen is, duidelik nie syne nie.
Hoewel die handtekening op die drie dokumente almal dié van “L.J. Nel” is, verskil dit ook op elkeen van die dagvaardigings.
Ook is sy adres op dié dokumente as Vierdestraat, in plaas van Vredestraat, aangedui.
Nel het dadelik die munisipale verkeershoof, mnr. Philip Olivier, oor die saak gekontak en hý het gereël dat die munisipaliteit al die lasbriewe opskort.
“Die lasbriewe kan egter net deur ‘n hof teruggetrek word. As ek nou in ‘n padblokkade gestop word, gaan dit steeds teen my naam wys en kan ek op die plek gearresteer word. Ek kan ook nie ‘n nuwe bestuurderslisensie of nuwe lisensies vir my voertuie uitneem voor die probleem uitgesorteer is nie,” voeg hy by.
Nel sê hy wil graag hê dat ander lede van die publiek bewus moet wees van die probleem omdat dieselfde dalk ander mense oorgekom het, en hulle nie onwetend met lasbriewe teen hul name rondry nie.
Die Herald het die munisipaliteit oor Nel se probleem gekontak.
Volgens ‘n munisipale woordvoerder is hulle bewus van die probleem en stel die munisipaliteit én die polisie tans verder ondersoek in.





