
Salarisse van senior amptenare en raadslede van die Ngwathe munisipaliteit is met 4% verhoog. Dit terwyl talle klein sakeondernemings en maatskappye werknemers se salarise reeds moes sny, of noodgedwonge afleggings moet maak te midde van die ekonomiese krisis vir Suid-Afrika met die Covid-19 pandemie.
Die verhoging is verlede Donderdag tydens ‘n raadsvergadering, wat vir die eerste keer ooit per telekonferensie gehou is, goedgekeur. Raadslede en amptenare was versprei in vyf dorpe, in verskeie kantore terwyl sommige ook vanuit hul woonhuise aan die konferensie deelgeneem het.
Ngwathe se voorgestelde munisipale begroting vir die nuwe finansiële jaar is ook tydens die konferensie vir openbare deelname goedgekeur.
Tariewe styg met 4.5%, behalwe elektrisiteit wat verhoog met 8.1 % (onderhewig aan goedkeuring deur Nersa). Afskrifte van die begrotingsvoorstelle is vir inspeksie beskikbaar by alle munisipale kantore, en raadslede is beloof dit sal ook op die munisipaliteit se webwerf op die internet (https://www.ngwathe.fs.gov.za ) geplaas word. By ons ter perse gaan was dit nog nie gedoen nie.
Die publiek het nou geleentheid om vrae te vra, kommentaar te lewer, en wysigings voor te stel. Anders as in ander jare, bring Covd-19 se inperking mee dat daar vanjaar geen openbare vergaderings sal wees nie.
Inwoners kan die begrotingsvoorstelle op die internet betrag, en hul reaksie dan e-pos na die munisipale bestuurder (by jordaanr@ngwathe.co.za’), sê DA-raadslid Andries Vrey (wyk 12). Hy sê die proses is meer as ‘n maand vertraag. “Volgens wet moet die stadsraad jaarliks voor of op 31 Maart ‘n ontwerp-begroting vir openbare deelname goedkeur.” So ‘n vergadering was gereël vir 30 Maart, maar die DA het versoek dat dit uitgestel word totdat ‘n videokonferensie gereël kan word.
DA-raadslede sê dat die begroting groot uitdagings bied. “Ons sou graag meer besteding aan infrastruktuur (soos strate, kragdrade, waterpype en -suiwering) wou sien, maar munisipale inkomste gaan ongetwyfeld daal, en dit gaan reeds broekskeur om lopende uitgawes te dek,” sê Arnold Schoonwinkel, DA-segsman oor munisipale finansies.
Ten spyte daarvan het die vergadering die salarisverhoging van senior amptenare en raadslede goedgekeur.
‘Per abuis nie raakgesien nie’
Die DA is sterk gekant teen die salarisverhoging, maar sê die DA-raadslede dat speaker, Mopedi, hulle nie toegelaat het om daarteen te kon argumenteer nie.
“Speaker Mopedi sê sy het ons per abuis nie raakgesien nie, en die vergadering toe verdaag sonder dat raadslede kon stem,” het DA-koukusleier, Carina Serfontein, aan Gazette gesê. Sy sê die DA het onmiddellik daarna gevra om die video-opname van die vergadering te sien.
“Ons het later die speaker per e-pos van ons teenkanting verwittig, en formeel versoek dat ons brief aangeheg word by die notule van die vergadering.”
DA-raadslede meen dat salarisse eerder verlaag moes word in hierdie tye wanneer talle mense geen inkomste het nie.




