Net meer as twee weke na die onbeskryflike tragedie op die Voortrekkerplaas, Doornkloof, net buite Lindley, toe ‘n fratsvloed in die nagtelike ure die lewe van terreinbestuurder Chris Gillomee ge-eis het, en groot skade aan die infrastruktuur op die plaas aangerig het, “kan jy amper nie meer so baie van die vloed op Doornkloof sien nie.” Die kampterreine op die plaas behoort binne die volgende weke weer verhuur te kan word en is dit net genade uit God se hand, het Willie Engelbrecht, gebiedsleier van die Voortrekkers in die Vrystaat gesê.
Herstelwerk aan die beskadigde infrastruktuur op die Voortrekkers se Doornkloof-plaas vorder fluks.
Engelbrecht het gesê dat die Voortrekkers die afgelope meer as ‘n week soveel klein wonderwerke beleef het, en hoe God voorsien. Die breekware stoor op Doonkloof het bykans geen skade nie. Die voorraadstoor se mure is al dakhoogte herbou, terwyl ook die waskamer herbou is. Die elektrisiteit sou oor die naweek weer gekoppel word, en bouers het die afgelope week gewerk om die vlagsaal reg te maak en die mansbadkamers op die hoofterrein.
Engelbrecht het gesê die Doornkloof-rampfonds wat na die tragedie gestig is, het drasties gegroei en “sal help om ‘n groot klomp gate toe te stop, en om die dinge reg te maak wat ons nog elke dag oplet waaraan ons moet aandag gee.” Hy het namens die Voortrekkers groot dank uitgespreek teenoor elkeen wat bygedra het, en gesê dat daar verseker ook van die hulp gebruik gemaak sal word wat na die ramp van oraloor aangebied is.
Hy het gesê groot werk lê voor met die gebiedskampe en het gebiedskampleiers hand opgesteek om te help met die regmaak van onder meer die Suiderkruisterrein, ou tuin en die hoofterrein. Dankie vir elkeen wat die Voortrekkers in hierdie afgelope weke op soveel maniere ondersteun het. “Deur na die wêreld te kyk op die regte manier is daar altyd lig in ons lewens. Deur na die wêreld te kyk deur God se oë kan ons ‘n groot verskil maak,” het Engelbrecht gesê
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.