Inbrekers spaar selfs museum nie
Selfs museums bly deesdae nie gespaar van die hande van misdadigers nie. Daar is verlede week by die Parys-museum ingebreek, maar danksy die alarm wat afgegaan het en sekuriteitsdienste se vinnige reaksie, is niks gesteel nie. Jan-Danie Malan, die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se kultuurkoördineerder sentraal, en ondervoorsitter van dié museum se vrywilligerskomitee sê …
Selfs museums bly deesdae nie gespaar van die hande van misdadigers nie. Daar is verlede week by die Parys-museum ingebreek, maar danksy die alarm wat afgegaan het en sekuriteitsdienste se vinnige reaksie, is niks gesteel nie.
Jan-Danie Malan, die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se kultuurkoördineerder sentraal, en ondervoorsitter van dié museum se vrywilligerskomitee sê hulle is dankbaar dat geen van die museumstukke gesteel is toe daar op 10 Julie by die museum ingebreek is..

Die FAK-Parys-Kultuurnetwerk het dit op hul skouers geneem om die gebreekte venster en houtraam te beveilig deur diefwering te installeer.
Daar is geen verdere skade aan dié unieke museum aangerig nie. Die saak is by die polisie gerapporteer.
Net ‘n week voor die inbraak is ‘n nuwe komitee van vrywilligers verkies as die bestuur van die museum.
In die laaste tien jaar het Parys se museum, soos vele ander plaaslike museums, erg agteruitgegaan. Die terrein se instandhouding is afgeskeep, en die items in die museum is nie volgens standaard museumpraktyk onderhou en skoongemaak nie.
Die FAK het in 2022 ingegryp toe die houtplafon van die stoep van die museum gesteel is.

Voordat die museumterrein omhein is was daar gereelde voorvalle van vandalisme en plundering soos hierdie deur haweloses en misdadigers.
“Dit is vir die nuutgekose komitee belangrik om die erfenis te bewaar wat deur verskeie persone oor baie jare op standaard gehou is. Daar is ‘n groot taak op die nuwe komitee se skouers, maar ons glo dat ons hierdie stukkie erfenis sal kan bevorder en bewaar vir die nageslag,” sê Malan.
Die museum huisves die unieke geskiedenis van die dorp, en die uitstallings vertel die verhaal van onder meer die nywerhede wat vroeër jare deel was van die museum.
Dit sluit in die destydse Arwa-fabriek en die mandjiefabriek wat rottangstoele en mandjies vervaardig het. Daar was selfs ‘n tabakfabriek.



