Benoude oomblikke na seekoeitjie se geboorte by Animal World
Besoekers aan die Emerald Resort & Casino se Animal World in Vanderbijlpark het met de gebeure baie meer waarde vir hul geld gekry as die toegangsgeld wat hul betaal het, toe 'n baba-seekoeitjie reg voor hul oë gebore is.
(Die redakteur van die Gazette se susterskoerant, Vaalweekblad, Elsje Vermeulen, wat toevallig daar was, het die die hele gebeurtenis waargeneem en foto’s geneem).
Daar was skielik bloed in die water en toe maak die seekoeitjie sy veskyning.
‘Daar kon eers nie genoeg ge-oe en ge-aa word deur die besoekers nie, en toe volg daar skielik ‘n paar benoude oomblikke. Dit het voorgekom of die ma haar baba van die pa probeer weghou en toe almal weer sien is baba by pa, en pa maak sy bek oop oor baba se kop.
Op daardie stadium het ek en ‘n paar omstanders geskree en sommer ‘n ent weggehardloop. Gelukkig het die ma haar baba weer daar weggekry en die klein woelwater het veilig aan die ander kant van die dammetjie gaan swem.
lana Smalberger (bestuurder van die Animal World Dieretuin) was kort daarna op die toneel en het dadelik beheer geneem. Die seekoeitjie moes vir sy eie veiligheid uit die kamp gehaal word.
Die ma en pa is met kos weggelok en toe dit veilig was, het Iana sommer klere, skoene en al in die dam gespring en die baba na die vlak kant geneem. Die nuweling is daarna veilig uit die water getel en na sy eie kamp geneem.





