O genade! Daar’s ‘n slang in die pyp
Hou maar jou oë oop - slange begin al meer beweeg nou

Kyk maar goed rond vir adder se kind. Met die reënseisoen wat nou kom, begin slange al meer rondbeweeg, en het We Care se Wynand Nel Dinsdag 5 September, reeds ‘n slang in Lysterlaan moes vang.
Die rinkhals het uit die pype gekruip toe die swembadpomp aangeskakel is.
Wynand waarsku dat mense baie versigtig moet wees, en onder geen omstandighede moet probeer om sou jy ‘n slang in jou huis of erf teëkom, dit met die hand te probeer hanteer nie.
Goeie raad is om ‘n duidelike foto te neem sodat die slang maklik geïndifiseer kan word, en mense wat jou sou kom help sal weet wat nodig sal wees om die slang te vang.
Hou die slang onder oë terwyl jy wag vir hulp, anders kan dit ‘n soektog afgee en loop jy die risiko dat hy dalk weg is voordat hulp opdaag.
As dit veilig is kan jy probeer om ‘n emmer oor die slang te sit met ‘n baksteen op totdat hulp opdaag, maar moet geen kanse waag nie. Jy kan dit slegs doen as dit veilig sou wees.
Sou jy ‘n slang in jou huis of erf kry kan jy Wynand skakel by 082 629 1553., of Dorette by 071 554 7966