Nog geen uitsluitsel oor administrasie ná Ngwathe-aansoek
Regter J.P Daffue het vroeër in die Vrystaatse Hoë Hof beslis dat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor die inwoners van Parys, Heilbron, Koppies, Edenville en Vredefort nakom nie.
Regter Daffue het vroeër bevind dat die Ngwathe Munisipaliteit nie meer aan sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor sy inwoners voldoen nie. Die hof het gevolglik die ontbinding van die munisipale raad beveel, en die Vrystaatse provinsiale regering opdrag gegee om onmiddellik in te gryp.
Die uitspraak volg ná jare van verwaarlosing, onbevoegdheid en verval, waartydens inwoners van onder meer Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort sonder betroubare dienslewering gelaat is.
Volgens die geskiedkundige uitspraak moet die Vrystaatse uitvoerende raad binne die raamwerk van artikel 139(5)(a) van die Grondwet ‘n herstelplan opstel om dienste te herstel en skuldverpligtinge na te kom, die Ngwathe Munisipale Raad ontbind, en ‘n administrateur aanstel. Daar moet ook elke drie maande onder eed aan die hof verslag gedoen word oor vordering.
Die Ngwathe Munisipaliteit, tesame met agt ander respondente in die saak, waaronder die Vrystaatse premier, is ook volgens regter Daffue se beslissing verantwoordelik vir AfriForum se regskoste.



