Vier mans gewapen met ‘n handwapen, het personeel en ‘n kliënt van Foschini Saterdagoggend met oopmaaktyd in die winkel oorval, waarna hulle met nagenoeg R35 000 se kontant en ‘n selfoon gevlug het.
Die voorval het net na 08:00 gebeur. Die rowers het een van die personeellede wat buite gerook het, oorval toe hy weer in die winkel in is. Hy, die twee vroulike winkelassistente, en die kliënt is daarna deursoek. Die rowers het gesê dat hulle net geld soek en niemand wil seermaak nie. Die geld is toe uit die kluis en een van die winkelassistente se handsak gevat. Die winkelassistent se selfoon is ook gesteel.
Almal behalwe die kliënt is daarna in die kombuis ingedwing en vasgebind. Die rowers het hul uit die voete gemaak met twee wat in die rigting van Pep Stores, en twee om die hoek in die rigting van Clicks, gehardloop het.
Die kliënt het hulle agterna gesit en gesien hoe hulle in Middelstraat regoor Eerste Nasionale Bank in ‘n wagtende ouer model Fortuner sonder nommerplate gevlug het.
Sy het die polisie en ‘n vriend geskakel om hulp te ontbied.
Teen Gazette se druktyd is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Niemand is ook beseer nie, hoewel die ambulans wel ontbied is om om te sien na die welstand van een van die winkelassistente.
Die gewapende rooftog volg nadat American Swiss in Parys verlede week onder gewapende rowers deurgeloop het.
Donderdagaand, 28 November omstreeks 21:30 is ‘n vragmotor met ‘n vrag kunsmis ook by die R59-afrit vanaf die N1 gekaap. Terwyl die vragmotorbestuurder by die stopstraat gewag het, is hy deur drie mans oorval toe hulle met ‘n vuurwapen in die hand teen die ruit geklop het. Hulle het hom gedwing om die deur oop te maak en oor te skuif na die sitplek agter in die vragmotor. Toe die rowers uitvind die vrag is nie waarna hulle soek nie, het hulle die vragmotor en vragmotorbestuurder tussen Kliprivier en Meyerton gelos en hul uit die voete gemaak.
Hulle is weg met net die vragmotorbestuurder se klere en selfoon.
Die verskrikte vragmotorbestuurder het die saak by die polisie aangemeld.





