News

Daar’s lig in die ‘rekening-tonnel’ – maar die skakelaar is in jou hande!

Daar’s lig in die ‘rekening-tonnel’ - maar die skakelaar is in jou hande!

   

 

Munisipaliteite is dikwels eerste op die lys wanneer kritiek uitgedeel word, en laaste wanneer betalings gemaak word. Ngwathe Munisipaliteit kan sonder twyfel die eer vir eersgenoemde toeskryf aan sy eie toedoen – swak, wisselvallige dienslewering, onbeholpe administrasie, en selfs swakker algemene en finansiële bestuur. Dit verdien vir Ngwathe elke stukkie kritiek wat aan die munisipaliteit toegedig word. Die onlangse implementering van die ‘Revenue Enhancement Plan’ begin November, het egter ook blootgelê dat wanbetaling nie gering geskat moet word as bydraende faktor tot swak dienslewering en verval nie. Sedert die begin van die maand is ek oorval deur gefrustreerde en dikwels bekommerde rekeninghouers wat nou aan die ontvangkant van Ngwathe se skuldinvorderings- en kredietbeheermaatreëls staan. By tye het die omvang van uitstaande skuld, selfs op residensiële rekeninge van klein huishoudings, my verstom, en weer eens laat besef tot welke mate dié probleem munisipale funksies affekteer. Terwyl daar uiteraard ook rekeninghouers was wie se hoë uitstaande rekeninge die gevolg was van foutiewe data en lesings (hierdie kan almal redelik maklik aangespreek word), was daar in die oorgrote meerderheid van gevalle geen twyfel dat die skuld wél bestaan nie, en het rekeninghouers eindelik toegegee dat hul wel nie gereeld hul munisipale rekeninge betaal nie, maar gepleit vir hulp synde die omvang van dié skuld nou vir hulle ’n groot bron van kommer is. In heelwat gevalle het hul toegelaat dat die probleem oor tyd buite beheer raak.

 

Om die betaling van uitstaande munisipale skuld aan te moedig en te vergemaklik, het Ngwathe ‘n amnestie periode aangekondig. Gedurende dié periode kan rekeninghouers voordeel trek uit kortings (van tot 50%) op munisipale skuld, en/of afbetalingsooreenkomste aangaan om die skuld te delg. Die realiteit (deels ook die gevolg van die stram ekonomiese omgewing waarin ons onsself bevind) is dat heelwat inwoners selfs nie ná die kortings en afbetalingsplanne sou kon bekostig om uitstaande munisipale skuld te delg nie. Ek het met die munisipale bestuur in gesprek getree en mnr. Kannemeyer het gelyk gegee dat die doel van die ‘Revenue Enhancement Plan’ nooit was om ‘bloed uit n klip te tap’ nie, maar om n daadwerklike poging aan te wend om ‘n kultuur van betaling te hervestig.

 

Dié kultuur het oor jare byna verdwyn, en een van die mees algemene wanpersepsies is dat sekere dele van die gemeenskap meer geneig is tot wanbetaling. Feite weerspreek dié persepsie totaal – wyk 12 (waar ek vir byna ‘n maand reeds daagliks voltyds te doen het met agterstallige rekeninghouers), dra nie minder by tot dié kwellende probleem nie. Rekeninghouers wat slapelose nagte het omdat hul weens beperkte inkomste of finansiële druk nie hul skuld kan delg (selfs nie ná die kortings, of deur die gepubliseerde afbetalingsterme nie), kan gerus wees dat die munisipale bestuur bewus is van die finansiële druk van ons gemeenskappe, en die onderneming gegee het dat amptenary voortaan instruksie en opleiding sal kry om saam met geaffekteerde rekeninghouers te kyk na, en onderhandel vir, bekostigbare terme waarvolgens skuld vereffen kan word. Mr. Kannemeyer het dit baie duidelik aan my gemaak dat, waar rekeninghouers hul skuld erken en onderneem om voortaan hul lopende rekeninge maandeliks te diens, die munisipaliteit saam met hul sal werk om bekostigbare en haalbare ooreenkomste te onderhandel waarvolgens uitstaande historiese skuld betaal sal word. Rekeninghouers wat sodanige ooreenkomste onderhandel en aangaan, sal steeds kan staatmaak op sekere verligtingsmeganismes, insluitend kortings, vries van rente, ensovoorts.

 

Ek wil dus steeds alle rekeninghouers wat geraak word aanraai om sonder verwyl die munisipale finanskantoor te nader, en openlik en eerlik met hul te onderhandel om ‘n werkbare, bekostigbare oplossing te vind. Ek het die versekering van die munisipale bestuurder dat hulle begrip en empatie aan die dag sal lê, en waar bewysbare inkomste aandui dat bestaande terme nie bekostigbaar is nie, sal moeite doen om elke geval individueel te beoordeel en hanteer. Vir enige hulp of advies met dié proses, kan rekeninghouers ook kontak maak met hul wyksraadslid of ander raadslede. Ek en my kollegas help graag waar ons kan.

 

Antwoorde op vrae en stellings wat dikwels aan my gestel word:

Ek gaan nie my skuld betaal nie, want Ngwathe stuur nie vir my gereeld ‘n rekening nie!

Uiteraard behoort die munisipaliteit gereeld rekeninge uit te stuur, maar of u ‘n rekening ontvang het of nie, die aanspreeklikheid staan. Die teenvraag is dikwels: Wanneer u met ‘n redelik maklike besoek aan die munisipale kantore ‘n rekening of staat kan bekom, is dit nie maar raadsaam om self u risiko in dié verband te beperk nie?

Ek ‘glo’ nie dat die uitstaande bedrag korrek is nie. Wat kan ek doen?

Verklaar ‘n dispuut. Dit bied Ngwathe (en u) dan vir 30 dae geleentheid om die rekening na te gaan vir moontlike foute. Gedurende dié tydperk kan daar ook geen stappe teen u geneem word om uitstaande skuld in te vorder nie.

Ek het ‘n kennisgewing ontvang dat my dienste opgeskort gaan word. Kan en sal hulle dit doen?

Ongetwyfeld. Moenie hierdie kennisgewings ignoreer nie – maak sonder verwyl werk hiervan. Wanneer u dienste eers onderbreek is, is dit byna onmoontlik om u van hulp te wees.

Ons is ‘tydelik’ onder finansiële druk, maar sal weer oor ‘n maand of twee ons lopende rekening kan betaal (en inhaal). Hoe maak ons?

Gaan sien die amptenare, verduidelik u situasie, en beding n ooreenkoms volgens u omstandighede. Die munisipale bestuur het my verseker dat hulle bereid is om te luister en te help.

Ek het skielik ‘n groot rekening gekry omdat my watermeter vir die eerste keer in n lang tyd gelees is. Is dit regverdig?

Hoewel u steeds aanspreeklik is vir verbruik wat deur ‘n lesing bewys kan word, is daar sekere omstandighede waaronder sekere van dié koste moontlik nie van u verhaal kan word nie. Sou dit byvoorbeeld wees dat u mees onlangse ware lesings meer as drie jaar uitmekaar geneem is, mag dit wees dat ‘n gedeelte van die uitstaande skuld reeds verjaar het en nie meer ingevorder kan word nie. Regspraak dui daarop dat die verjaringstydperk begin wanneer u vir die koste aanspreeklik gehou móés word, en nie wanneer die munisipaliteit eindelik n lesing neem en ‘n rekening lewer nie.

In Parys is daar heelwat gevalle van waar ware lesings so min as een maal in ses jaar gelees word. In só geval sal Ngwathe moeilik bewys hoeveel van dié skuld nie reeds verjaar het nie, synde hulle beswaarlik sal kan weet presies wanneer die water gebruik is.

Ons inkomste is te min om elke maand ons rekening te betaal.

Ondersoek die vele programme waarvolgens hulpbehoewende inwoners bygestaan kan word – dit is juis daar om te help. U raadslid sal u van inligting kan voorsien.

My krag is afgesny en ek het ‘n boete gekry omdat daar met die meter gepeuter is. Kan u help?

Ongelukkig nie. Selfs in gevalle waar inwoners aanvoer dat hulle nie self met die meter gepeuter het nie, is die vraag altyd: Het jy dit nie vreemd gevind dat jy nie vir krag betaal nie? Hoekom het jy dit nooit rapporteer nie? Het jy nie ook voordeel getrek uit die diefstal van elektrisiteit nie? ‘n Geval van die deler en steler?  

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button