
Registrasie vir aanlyndeelname aan die 2022 sensusopname het reeds op 5 Februarie gesluit, en sal mense wat nie aanlyn geregistreer het nie, nou telefonies kan deelneem wanneer amptenare van Statistiek Suid-Afrika jou kontak, of jy kan jou inligting aan veldwerkers gee.
Sowat 165 000 veldwerkers is uitgestuur wat van huis tot huis sal beweeg, en inligting insamel vir die duur van die sensusopname wat op 28 Februarie eindig.
Hoe ken jy sensus-veldwerkers uit?
Veldwerkers sal ‘n groen hemp dra met ‘n swart hoed.
Hulle sal ‘n SSA (Statistiek Suid-Afrika) identifikasiedokument by hulle hê met ‘n unieke nommer daarop.
Jy kan op die SSA-webtuiste of by SSA se inbelsentrum hierdie unieke nommer verifieer voordat jy iemand in jou huis toelaat, sou jy kommer hê oor die persoon wat jou nader.
Die sensus sou aanvanklik in 2021 gedoen word, maar moes weens die Covid-19 pandemie uitgestel word.
Dit is die land se vierde sensus sedert demokrasie. Wat behels ‘n sensus? ‘n Sensus is ‘n nasionale proses waartydens almal in die land getel word om die bevolkingsgrootte te bepaal.
Dit help ‘n land met sy medium en langtermyn beplanning vir die behoeftebepaling vir byvoorbeeld skole, hospitale ensovoorts. Bevolkingsgrootte het ook ‘n direkte invloed op begrotings.
Wie word getel?
Almal in die land sal getel word, of jy ‘n Suid-Afrikaanse burger is aldan nie, wettig of onwettig in die land is aldan nie – almal moet getel word.
* In 2011 was die land se bevolkingtal volgens die sensusopname 51 770 569.





