Koepel en distrik se stories ook in Riemland-museum vertel
"Ons brei ons storie uit: Van dorp tot distrik"
Die Riemland-museum in Heilbron het begin as dorpsgefokusde museum toe dit in private besit gekom het, maar dié museum is besig om te ontwikkel tot ‘n distriksmuseum wat die volledige geskiedenis, kulturele en omgewingsrykdom van sy omliggende streek sal vier.
Met dié opwindende nuwe hoofstuk sal die museum sy uitstallings uitbrei om ook die breër Riemland-distrik te weerspieël. Een van die belangrike hoogtepunte van die ontwikkeling is die insluiting van die wêreldbekende Vredefort Koepel, ’n UNESCO-wêrelderfenisterrein en die oudste en grootste sigbare meteorietimpakkrater op aarde.
Hierdie merkwaardige natuurlike landmerk is nie net ’n geologiese wonder nie, maar ook diep verweef met die verhale van mense, grondgebruik en vestigingspatrone wat die distrik oor eeue gevorm het, sé die museum se Lanzo Soothill.
Saam met die Koepel sal die ander dorpe van die Riemland — elk met hul eie unieke erfenis — ook verteenwoordig word in die uitgebreide uitstalruimte. Besoekers kan uitsien na nuwe vertonings oor die landbougeskiedenis, argitektoniese erfenis en kulturele tradisies wat dorpe soos Deneysville, Koppies, Edenville en meer definieer, vertel Soothill.
Hierdie oorgang na ’n distriksmuseum weerspieël ons verbintenis tot inklusiwiteit in vertelling om te verseker dat die breër Riemland-gemeenskap se gedeelde nalatenskap bewaar, gevier en toeganklik gemaak word vir almal.
Die insluiting van die Vredefortkoepel as deel van die uitstalling is tans nog in ’n vroeë ontwikkelingsfase, maar sal binnekort geïntegreer word in die tydlyn-uitstalling sodra fondse vir die uitlegverandering verkry is. “Ons sal nou saamwerk met Prof. Graeme Addison om seker te maak dat die mees belangrike en relevante inligting vasgelê word, het Soothill gesê.

Die publiek, skole en navorsers word genooi om saam met die museum op hierdie opwindende reis te gaan. Om saam die vele drade te verweef wat die Riemland ’n uitsonderlike deel van Suid-Afrika se kultuurerfenis maak.



