Local newsNews

Ons salueer jou Bennie

Bennie se plek is vandag leeg in baie harte.

Hoe groet ‘n mens ‘n maat – kollega, wat vir soveel jaar  sy aan sy saam met jou gewerk het?

Woordeloos het soekhond Bennie en sy hanteerder, adjudant-offisier Hollie Holtzhausen van die polisie se K9-eenheid in Sasolburg mekaar verstaan, en ‘n leeftyd se herinneringe gedeel van tonele waar hulle saam gewerk het in sy diensloopbaan.  In vloedsituasies, in die veld, by vlak grafte, op soek- en reddingstonele oor die hele Vrystaat. Vierhonderd verdrinkingsake, 288 moordsake, 380 sake van vermiste persone, 76 botsingstonele waar gesoek is na liggame wat met die geweld van ‘n botsing uit ‘n voertuig geslinger is, of die liggaamsdele van voetgangers wat raakgery is.

Bennie, is gister die laaste keer gegroet. Hy was 12 jaar oud.

Kanker in sy milt en longe het sy tol ge-eis, maar die spore wat K9 se Bravo 6039 agterlaat, lê diep getrap.

Sedert Spondylosis (werwels wat aan mekaar vasgroei) in 2024 vatplek aan sy lyf gekry het, was opstaan strammer, en is hy aanvanklik op aanbeveling van die veearts by die SAPD  K9-opleidingssentrum in Roodepoort eers op ligte diens geplaas, totdat hy kom aftree het in Parys by adjudant-offisier Holtzhausen na sy lang en uitsonderlike diens in die polisie as soek-en reddingshond.

Bennie was adjudant-offisier Holthausen se derde soek-en reddingshond. Van die begin was hul saamwees anders. “Van die dag wat ek hom uit die werpsel gekies het – of eerder hy vir my toe hy na my toe gekom het.” Daar was ‘n gom tussen hulle wat geklou het. ‘n Onafskeidbare band. Soms was dit net oogkontak, of ‘n handgebaar wat nodig was vir Bennie om te weet wat van hom verwag word as hulle saam in die berge was, en mekaar nie kon hoor nie.

Dit was Bennie wat in 2021 help soek het na die die 35-jarige Yolandi Botes van wie dele van haar ontbinde liggaam in die omgewing van die Vaal-vakansieoord by Villiers gekry is. Sy is die laaste keer gesien toe sy ‘n Uber-diens gebruik het vanaf die OR Tambo-lughawe.

In 2022 werk Bennie en adjudant-offisier Holtzhausen vir dae in dik mynslik om te soek na tekens van lewe nadat ‘n damwal by die Jagersfontein-myn gebreek het.

Daar was die tragiese geval in 2017 toe die oorskot van die 3-jarige Liam Nortjie langs ‘n treinspoor by Harrismith gevind is. Sy pa is later aan sy moord skuldig bevind.

Drie maal het Bennie en adjudant-offisier Holtzhausen in Lesotho gehelp tydens natuurrampe, of met moordsake waar die hulp van die polisie se soek- en reddingseenheid ingeroep is.

“Jy werk saam met een doel voor oë. Om ‘n lewe te red, of om uiteindelik vir families afsluiting te gee wanneer ‘n liggaam gevind word.

Vier-en-twintig uur van die dag was hul saam tydens Bennie se dienstyd. Meer tyd as wat ‘n man en vrou gemiddeld in ‘n huwelik saam spandeer.

En selfs die laaste jaar na sy uittrede was Bennie daar wanneer adjudant-offisier Holtzhausen saans sou huis toe kom.  Maar tyd was nie meer aan Bennie se kant nie, en sal hy onthou word as ‘n legende in baie harte.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button