Local newsNews

Hoërskool Riebeeckstad bustragedie: Talle beseerde leerders in hospitale behandel

"Julle is in ons gebede."

Verskeie leerders van Hoërskool Riebeeckstad wat in die tragiese busongeluk, Dinsdagmiddag 6 Februarie, beseer is, is in hospitale in Welkom, Virginia en Senekal opgeneem.

Die  busongeluk op die R70 naby Ventersburg, het die lewens van ses van die skool se leerders ge-eis.

Die kinders was van Moolmanshoek per bus na Riebeeckstad in Welkom onderweg, toe die ongeluk sowat 30km buite Ventersburg op die Ventersburg/Senekal-pad gebeur het.

Howard Ndaba, woordvoerder van die departement van onderwys het vanoggend gesê tien beseerdes, insluitend die busbestuurder, is in die Senekal-hospitaal opgeneem.

Twee leerders is na die RH Matjhabeng hospitaal in Welkom geneem, en tien leerders na Medi Clinic Welkom.

Nog 27 beseerde leerders is na Bongani-hospitaal vervoer en drie na Katleho Hospital in Virginia.

Ndaba het gesê meer inligting oor die toestand van die beseerdes sal later gegee word.

Sowat 58 dogters was in die bus, nadat hulle vroeër die dag ‘n buitelug sportgeleentheid vir dogters bygewoon het, het die kantoor van die Vrystaatse premier by monde van Palesa Chubisi, gisteraand in ‘n verklaring gesê.

Die ses dogters wat noodlottig beseer is, is op die ongelukstoneel dood verklaar.

Verskeie skole het na die skoknuus gisteraand hul medelye met Hoërskool Riebeeckstad, sy personeel, ouers en leerders uitgespreek.

Ons harte gaan uit na hierdie ouers en families.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button