Local newsNews

Nuwe NAMPO-rekord

Warmste NAMPO in jare laat besoekers deur die hekke stroom

Die NAMPO Oesdagplaas het vanjaar behoorlik uit sy nate gebars met  ‘n nuwe rekord van 86 474 besoekers en 865 besoekers wat oor die vier dae van dié gewilde landbou handelskou deur die Oesdagplaas hekke beweeg het. Die meeste besoekers op een dag is Woensdag (15 Mei) getel – ook ‘n nuwe rekord.

Die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, het self ook Woensdag NAMPO besoek.

Benewens die besige NAMPO verkeer, het 290 vastevlerkvliegtuie en 82 helikopers gedurende die skoudae op Nampo Park se vliegveld geland.

Dit was die warmste NAMPO in jare wat tot die goeie bywoning bygedra het, sê dr. Dirk Strydom van Graan SA en hooforganiseerder van NAMPO.

Onder die besoekers by vanjaar se NAMPO Oesdag was ook heelwat Parysenaars en inwoners van Vredefort.

Dr. Tobias Doyer, hoof uitvoerende bestuurder van Graan SA het NAMPO as ‘n nasionale bate beskryf waaraan die hele landbousektor deelneem. Hy sê die sukses van NAMPO gaan oor die noue vennootskappe en samewerking wat  in die bedryf gevestig word. Dit is ‘n heerlike geleentheid waar leiers kan skouers skuur en verhoudings gebou word wat ons gaan dra deur die volgende jaar se besluitneming en saamwerk om landbou in geheel suksesvol te maak,” het Doyer verder gesê.

“Produsente moet deurentyd gefokus wees, want daar is min spasie om te struikel. Ná ‘n uitdagende produksieseisoen en met ‘n nasionale verkiesing op hande, help skep NAMPO ‘n atmosfeer van optimisme, maar met realistiese planne om dit uit te voer.

“Vanjaar se NAMPO-tema, Landbou in ‘n digitale era, het tot sy reg gekom, want landbou is op ‘n draaipunt van groot dinge wat kom. Ek is verstom oor wat produsente vandag alles tot hul beskikking het om sake op produksievlak te beheer – van genetiese en chemiese tegnologie tot by ‘n geweldige hoeveelheid data danksy die outomatisering van landbou,” het hy gesê.

Die NAMPO-toep, wat besoekers die geleentheid gebied het om uitstallers te soek, na stalletjies te navigeer en produkte en spesiale aanbiedinge na te vors, sal vanaf 1 Julie lewendig wees met relevante uitstallersinligting, sowel as virtuele toere van die 2024 NAMPO-stalletjies.

NAMPO Kaap wat op Bredasdorp aangebied word, word vanjaar gehou van 11-14 September, en NAMPO ALFA, die Lewende Hawe, Jag & Buitelewe ekspo vanaf 17-19 Oktober op NAMPO Park.

Die 2025 Nampo Oesdag sal van 13 tot 16 Mei op Nampo Park gehou word. 

Related Articles

Back to top button