Parys-sakeman sterf na botsing
Hy was die oggend onderweg vir dialise-behandeling toe die ongeluk gebeur het, het sy vrou, Mechelle gesê.

Jacques Roodman, sakeman van Parys wat saam met sy vrou, Mechelle, Sallys Laudry die afgelope tien jaar in die dorp bedryf, is Saterdag in die MediClinic in Vereeniging oorlede nadat hy Vrydagoggend in ‘n botsing betrokke was. Die botsing was op die R59 tussen Parys en Sasolburg by die Truck Stop ingang.
Jacques was 52 jaar oud.
Mechelle vertel dat die botsing tussen Jacques se motor en ‘n vragmotor net voor 04:00 Vrydagoggend gebeur het. Jacques is per ambulans van die botsingstoneel eers na die Parys Distrik-hospitaal geneem waarna hy na die Vereeniging Medi Clinic vervoer is.
Sy toestand het egter versleg en is hy Vrydagaand op ‘n ventilator geplaas.
Die egpaar was 20 jaar getroud en het ‘n seun, Juan (23). Jacques word ook oorleef deur sy ma en ‘n suster wat in Australië gevestig is.

Jacques was ‘n liefdevolle, omgee mens wat sy laaste besittings vir iemand anders sou gee, het Mechelle gesê. Hy was ook baie lief vir hengel en houtwerk.
Die Roodmans het 22 jaar gelede van Johannesburg na Parys verhuis.
Jacques moes drie keer per week dialise kry, en was juis Vrydagoggend weer op pad vir behandeling, het Mechelle gesê.
Die gesin sal Jacques met net die mooiste herinneringe onthou.
Die gedenkdiens sal Vrydag 7 Februarie om 12:00 vanuit die AGS Sion-gemeente gehou word.
Ons opregte medelye aan Mechelle, Jean, Jacques se ma, en die familie.



