Chaos met Vaal se water wat styg
'n Vierde sluis is vanoggend by die Vaaldam oopgemaak.

Die Vaalrivier se watervlak het deur die nag merkbaar gestyg. Vanoggend is n vierde sluis reeds by Vaaldam oopgemaak, en uitlaat by Barrage en Bloemhofdam is verhoog.
Om die effek van die verhoogde uitvloei by die Vaaldam en Barrage in Parys te sien neem gemiddeld tot 12 ure.



By Vosrite Fishing Adventures, n visvangoord aan die oewer van die Vaalrivier in die hart van die Vredefort Koepel met sy besondere natuurskoon, het die water egter alreeds van vroeg deur een van die oornagkamers aan die oewerwal gestroom waar vroeër ‘n drievlak lodge was.
Net meer as twee jaar gelede was hier enorme skade by die lodge met die 2023 vloed.
Toe het water tot op die derde vlak van die lodge gestyg wat sedertdien nog nie weer herbou kon word nie.
Detstyds kon eienaar Henning Vosloo nie eens die meubels red wat hulle nog betyds van die onderste vlak na die boonste vlak van die lodge kon dra nie. Vir bykans twee weke was die lodge toe onder water en het die struktuur geskuif op die fondasie. “Die water was soos n dief in die nag,” het Vosloo destyds aan Gazette vertel.
Die afgelope jare het Vosloo verskeie kere magteloos moes toekyk wanneer die Vaalrivier sy walle oorstroom. Soos ook in 2011, toe die vloedwater drie dae lank in die lodge se onderste vlak ingetrek het.
Toe weer in 2022. Elke keer is skoongemaak, drooggemaak en reggemaak.
Maar 19 Februarie 2023 was n ander gesig. In n kwessie van ure was alles onder water.
Wat die verhoogde vloei van die Vaalrivier nou inhou, is nog onseker vir hom en baie ander oewer oordeienaars, en steeds hou dit aan reën. Spruite en strome vloei sterk in.
Die situasie het n groot invloed op die oord, sê Vosloo.

- Vosloo en ander oewereienaars het sowat drie weke gelede n petisie opgestel oor die beheer van water uitvloei by die Barrage, en sê dat die skiellike hoë uitlaat van water by die Barrage skade veroorsaak by oorde stroomaf van die Barrage. Vosloo sê dit sou help as water meer stelselmatig uitgelaat kan word.



