Moord: Man in trollie-asblik gekry ná selfoonstryery
Paramedici het hom uit die houer gehaal, maar het hy aan sy beserings beswyk terwyl daar probeer is om hom te stabiliseer.

‘n Man van Bohlokong by Bethlehem staan tereg op ‘n klag van moord na hy en sy slagoffer stry gekry het oor ‘n gesteelde selfoon wat die verdagte glo geneem en verkoop het. Die polisie het vroeg vanoggend die verdagte in hegtenis geneem nadat hy betrap is waar hy besig was om ’n trollie-asblik na ‘n huis te stoot waarin sy bebloede slagoffer was.
Adjudant-offisier Mmako Mophiring sê voorlopige ondersoeke dui daarop dat die verdagte en die slagoffer gestry het oor ’n selfoon wat die verdagte glo geneem en verkoop het. Die verdagte was op pad om die slagoffer na die koper se huis te neem toe hy deur die polisie voorgekeer is.
Die slagoffer het ’n diep sny agter sy linkerkuit opgedoen, wat glo deur ‘n sinkplaat veroorsaak is, toe hy probeer vlug het. Hy het ook verskeie kneusplekke op sy liggaam gehad.
Die verdagte sal môre n die Bethlehem-landdroshof verskyn op ’n aanklag van moord.



