Connie Muldersentrum bied suksesvolle kermis aan
Die gemeenskap van Randfontein geniet hulself weer gate uit tydens die Connie Muldersentrum se jaarlikse kermis.
Die bestuur van die Connie Muldersentrum is trots op die sukses wat hulle tydens vanjaar se kermis geniet het. Dié kermis het op 5 Oktober plaasgevind en weer groot genot vir die hele familie verseker.
Volgens die Hoof Uitvoerende Beampte van die sentrum, Gordon Henney, is die kermis al ‘n jaarlike instelling by die sentrum en word dit elke jaar geweldig goed deur die gemeenskap ondersteun.
“Vanjaar se kermis was weer ‘n groot sukses en die mense in die gemeenskap het al van vroeg-oggend af by die sentrum se hekke ingestroom om deel van die geleentheid te wees,” vertel Gordon.
Hy vertel verder dat dié kermis een van die sentrum se grootste fondsinsamellingsprojekte is en dat al die fondse aangewend sal word om die sentrum in stand te hou en op te gradeer.
“Ek is baie trots op die sukses wat ons vanjaar geniet het. Dit was ‘n heerlike somersdag en die gemeenskap het elke oomblik van die geleentheid geniet,” vertel Gordon.
Soos oudergewoonte was daar vanjaar ‘n padwedloop wat weereens talle atlete in die gemeenskap gelok het.
“Behalwe vir die padwedloop kon feesgangers ook by ons tombolatafel ‘n draai maak, ‘n pom-pom optrede en hondeskou geniet.
“Daar was ook verskeie kosstalletjies wat die honger weggehou het,” vertel Gordon.
Gordon en die res van die bestuur by die Connie Muldersentrum bedank die gemeenskap vir hul ondersteuning tydens die kermis.



