Vriendskapstuiste hou weer boekverkoping
Die boekwurms in die gemeenskap kan weer binnekort boeke teen spotgoedkoop pryse by die Randfontein Vriendskapstuiste se boekverkoping aankoop.
Die inwoners van Randfontein Vriendskapstuiste hou op 25 Oktober ‘n boekverkoping om verdere fondse vir die tuiste in te samel.
Organiseerder van die boekverkoping, Maggie Ferreira, sê dat aangesien hulle so baie boekdonasies van die gemeenskap kry, hulle nie altyd plek in hul biblioteek het om al die boeke te hou nie.
Die boeke waarvoor hulle nie plek het nie, word dan op verkopings soos dié verkoop.
Vriendskapstuiste hou drie keer per jaar ‘n boekverkoping en gebruik die geld vir addisionele opknappings van die tehuis en om die oumense te help indien hulle enige behoeftes het.
“Behalwe vir die feit dat die geld wat ons met die boekverkopings maak die tehuis baie help, probeer ons ook om op die wyse die gemeenskap se leesvaardighede te bevorder en te verbeter,” vertel Maggie.
Al is die meeste van die boeke wat geskenk word, ten bate van Vriendskapstuiste, is dit vir die oumense baie belangrik om ook ‘n verskil in ander mense se lewens te maak, daarom skenk hulle jaarliks die boeke wat nie gedurende die jaar verkoop nie, aan nie-winsgewende organisasies.
Elke jaar ontvang hulle ook boeke wat flenters is en dié onleesbare boeke word ook aangewend om ander te help — dit word aan die Wes-Rand Skool vir Serebraalgestremde Leerlinge geskenk wat dan weer as herwinbare papier verkoop word om fondse vir die skool in te samel.
“Om te verseker dat die boekverkoping suksesvol is, het ons die hulp van die gemeenskap nodig.
“So, besoek asseblief ons boekverkoping op 25 Oktober.
“Indien die gemeenskap ons help stel hulle ons in staat om uit te ryk en in die lewens van minderbevoorregte mense en instansies ‘n verskil te maak,” vertel Maggie.



