Local newsNews

Ken jou regte aangaande die verbruikerswet

Ken jou regte en weet hoe die Verbruikersbeskermingswet jou regte beskerm wanneer jy jou vakansie-inkopies doen.

Soos baie Suid-Afrikaanse verbruikers sien jy moontlik ook daarna uit om die komende feestyd ‘n paar wonderlike huishoudelike items en geskenke te koop.

“Terwyl jy jou vakansie-inkopies doen, moet jy in gedagte hou hoe Suid-Afrika se Verbruikersbeskermingswet (VBW) jou regte as verbruiker beskerm,” sê Yolandi Boshoff, regsadviseur by Legal & Tax.

“Suid-Afrikaanse verbruikersregte onder die Wet was deur die geskiedenis heen baie swak,” voeg sy by.

“Die meeste van ons kon in die verlede met goeie rede kla oor die ongunstige behandeling deur groot maatskappye, soos banke, selfoonmaatskappye en kleinhandelaars – onregverdige huurkoopreëlings, boetes vir kontrakkansellasies, en meer.

“Sedert die bekendstelling van die VBW in 2011 het verbruikers nou meer regte as ooit tevore,” vertel Yolandi.

Die Wet hou sakeondernemings nou meer aanspreeklik vir die manier waarop hulle hul klante behandel.

Maatskappye wat nie aan die voorwaardes voldoen nie, kan swaar gestraf word met ‘n administratiewe boete van tot 10 persent van hul jaarlikse omset – of ‘n boete van R1 miljoen.

Jy kan jou klagtes oor maatskappye se optrede – kragtens die Wet – na ‘n tribunaal neem.

Anders kan jy met jou regsadviseur praat om jou te help om jou regte te beoefen.

“Dit is die moeite werd om te weet wat jou regte is, net ingeval jy ‘n teleurstellende ondervinding met gewetenlose of onverskillige maatskappye het wanneer jy jou Kersgeskenke koop of jou bonus gebruik om iets vir jou huishouding aan te skaf,” sê Yolandi.

Volgens die VBW het jy ‘n afkoeltydperk om ‘n vooruitbespreking of bestelling te kanselleer.

Moenie opgeskeep sit met ‘n ongewenste selfoonkontrak of tyddeelooreenkoms nie.

Tree binne die tydraamwerk op om jou vry te stel van enige verpligting aan die verskaffer.

Die VBW vereis dat maatskappye in gewone, eenvoudige taal wat enigeen kan verstaan met verbruikers te kommunikeer.

Dit beteken dat jy die reg het op ‘n kontrak en ander kommunikasie in ‘n vorm wat jy kan verstaan en dat maatskappye jou nie meer met die fynskrif om die bos mag lei nie.

Met jou reg tot regverdige en verantwoordelike bemarking maak die VBW dit vir jou baie makliker om op te tree wanneer ‘n maatskappy slegte of foutiewe goedere of dienste verskaf.

As ‘n verbruiker het jy die wetlike reg tot regverdige en verantwoordelike bemarking en diens van enige verskaffer of diensverskaffer met wie jy sake doen.

“Dié deel van die Wet beskerm jou teen algemene bedrieglike skemas en aanbiedinge, soos piramied- en verwante skemas.

“Maar dit beteken ook dat riskante gebruike, soos oorverkoop, verbode is.

Byvoorbeeld, as jy ‘n vlug mis omdat die lugdiens meer kaartjies verkoop het as wat hulle sitplekke het, moet die lugdiens jou kaartjie terugbetaal, met rente, en nie net bewyse uitdeel vir die vlug wat jy gemis het nie,” vertel Yolandi.

Die VBW sluit ook klousules in wat daarop gemik is om te verseker dat verbruikers goedere ontvang wat van “goeie gehalte, sonder defekte en rederlikerwys geskik is vir die doel waarvoor dit vereis word.

Dit beteken dat die produk, wanneer dit gelewer is, moet doen wat dit in die advertensie sê.

As dit duidelik nie die geval is nie of as dit in ‘n beskadigde toestand daar aankom, het jy, as die verbruiker, die volste reg om op te tree.

Vir meer inligting of regsadvies oor die Verbruikersbeskermingswet, kontak Legal and Tax by 0860 587 587 of besoek https://www.legalandtax.co.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button