Die meeste mense weet dat een van die belangrikste eienskappe van ‘n eiendom ligging is, maar is onseker wat dit presies behels.
“Daar is verskeie sleutelelemente wat ‘n ligging goed of uitstaande maak,” sê Richard Gray, uitvoerende hoof van die Harcourts-eiendomsgroep.
“Deesdae is veiligheid beslis bo aan die lys. Mense verkies uiteraard woonbuurte waar daar min of geen misdaad is nie. Mense wil veilig in hul huise voel en is bereid om ‘n premie vir sekuriteit te betaal en dis die rede waarom wonings in omheinde landgoedere of in gebiede met ‘n versperde ingang gewoonlik hoër pryse haal as soortgelyke eiendom elders – en boonop neem die waarde van huise in veilige woonbuurte vinniger toe.”
Dit is gewoonlik maklik om te sien wanneer jy na huise in ‘n veilige buurt kyk, omdat inwoners vry voel om rond te stap of aan buitemuurse aktiwiteite deel te neem en met hul bure staan en gesels.
“Jy moet dit egter in gedagte hou dat hoewel daar nog gemeenskappe is waar inwoners nie saans hul deure sluit nie sulke gebiede gewoonlik verder van skole, winkels en ander geriewe geleë is en dit sal waarskynlik ‘n negatiewe invloed uitoefen op sulke eiendom se potensiaal vir waardevermeerdering,” vertel Richard.
“Die tweede element van goeie ligging – waar mense bereid is om meer te betaal – is inderdaad maklike toegang tot die beste opleidingsentra, winkelsentrums en ontspanningsgeriewe wat enige dorp of stad kan bied. Huise in voorstede met verskeie top skole of wat naby ‘n universiteit is sal altyd in groot aanvraag wees en beter as gemiddelde groei in waarde geniet.”
Uitsigte en ‘n ligging aan ‘n waterkant is ook belangrik.
“Ongeag van waar jy woon, sal kopers bereid wees om meer te betaal indien die eiendom ‘n uitsonderlike uitsig oor byvoorbeeld ‘n vallei het of as dit aan die waterkant of naby aan ‘n dam of strand is. Dis veral opsigtelik in strandgemeenskappe waar huise nader aan die strand hoër pryse haal,” sê Richard.
In groot stede, sal ‘n goeie ligging inwoners ook vinnige en maklike toegang tot openbare vervoer of tot ‘n snelwegstelsel bied.
Richard vertel dat verbruikers wat na ‘n nuwe dorp verhuis aan om eers ‘n huis te huur voordat hulle een koop sodat hulle genoeg tyd het om uit te vind watter buurte gunstig is en eiendom kan koop wat nie net ‘n gerieflike tuiste gaan wees nie, maar ook ‘n goeie belegging gaan bied.



