Wees deel van die Christ 4 Life projek
Die Christ 4 Life diensjaar projek bied skoolverlaters die geleentheid om 'n jaar lank vir God te werk en te besluit wat hul toekomsplanne is.
Aan die einde van 2012 is daar begin met ‘n Diensjaar vir Christus om sodoende die nood van soveel jongmense wat skool verlaat en nie regtig weet wat hulle in die lewe wil gaan doen nie, aan te spreek.
Volgens een van die organiseerders, Riko Scholts, het hul eerste diensjaar op 4 Februarie 2012 afgeskop.
“Daar het talle jongmense by die diensjaar ingeskakel.
“Twee van hulle het uit ‘n agtergrond van dwelms en verskeie ander geestelike en psigiese probleme gekom,” vertel Riko.
“Ons kursus behels praktiese en teoretiese aanbiedinge op ‘n spontane en gemaklike manier waar jy leer om jouself te ontdek en wie die Here werklik is.
“Ons fokus daarop om jongmense te help ontdek wie hulle in Christus is en om ‘n persoonlike verhouding met Jesus te ontwikkel.”
‘n Ander aspek van die diensjaar-projek wat vir Riko en sy span belangrik is, is om aan die jeugdiges God se plan met hul lewens bekend te maak.
Behalwe vir die groot geestelike wins wat die jongmense deur die projek bekom, leer hulle ook talle lewensvaardighede soos noodhulp, rekenaarvaardigheid, kreatiewe denke en beroepsvoorligting om net ‘n paar te noem.
“Gedurende verlede jaar se diensjaar het ons sekerlik van die grootste wonderwerke wat die Here kom doen het beleef.
“Dwelmprobleme is iets van die verlede, jongmense is geleer hoe om psigiese en geestelike probleme te konfronteer en te hanteer en elkeen se identiteit in Christus is op ‘n wonderbaarlike wyse ontdek.
Die Here het voorsien in elke jongmens se behoeftes,” vertel Riko.
Hy vertel verder dat daar weer vanjaar ‘n diensjaar-projek geloods is en dat dit weereens beloof om een van die mees opwinedende jare in elke betrokke jongmens se lewe te wees.
Vir enige navrae kontak gerus vir Riko Scholts by 083 452 2383 of Reinette Klopper by 082 852 0838.



