Plaaslike kunstenaar word by die Vroue Monument uitgestal
Die plaaslike kunstenaar, Magriet Botha, se werke vorm nou deel van die Vroue Monument asook die Anglo Boere-oorlog se herdenking.
Plaaslike kunstenaar Magriet Botha is onglangs genader om ‘n kunswerk ter herdenking van die Vrouemonument in Bloemfontein se 100-jaar herdenking te skilder.
Volgens Magriet, het die Vrouemonument sowat 125 van Suid-Afrika se top-kunstenaars genader om ‘n kunswerk te maak wat by die Vrouemonument uitgestal word.
“Die tema van die projek was die oorsaak en gevolge van die Anglo Boere-oorlog,” sê Magriet.
“Ek was baie opgewonde om dié kunswerk te maak en het dadelik met my navorsing begin.”
Kort daarna het Magriet haar verfkwas op ‘n skoon doek gelê en met ‘n merkwaardige skildery vorendag gekom.
Sy vertel dat aangesien sy van ‘n myngemeenskap afkomstig is, sy besluit het om die mynbedryf haar hooftema in die skildery te maak.
“Die mynbedryf het ‘n reuse impak op die Anglo Boere-Oorlog gehad en daarom het ek besluit om dié gedate in my kunswerk op te sluit,” vertel Magriet.
Verder dui Magriet se werk ook op die socio-ekomoniese omstandighede wat die oorlog meegebring het en dat die verlies en dood van die oorlog vir die Britse soldate niks beteken het nie.
“Om my stuk soveel meer waarde te gee het ek die raamwerk ook haarfyn beplan.
“Die raamwerk simboliseer die kantwerk wat Emily Hobhouse die boerevroue geleer het om te kan oorleef,” vertel Magriet.
Dié kunswerk het Magriet ongeveer vier maande geneem om te voltooi en is in April 2013 ingehandig.
Die amptelike bekendstelling van die werke het op 10 Oktober plaasgevind.
Magriet se skildery, sowel as die ander kunstenaars se werk vorm nou deel van die permanente stukke by die Vrouemuseum en word kwartaaliks geruil.
Dus is haar werk gereeld sigbaar teen die Vrouemonument se mure.
“Dit was vir my ‘n groot voorreg om deel van die projek te wees en ek ag myself bevoorregd om my werk langs van die land se topkunstenaars te sien,” vertel Magriet.



