Op Woensdag, 5 Oktober het AfriForum Westonaria hul Maand van Selfstandigheid-veldtog afgeskop. Ten spyte van die hitte is daar steeds moue opgerol en aan die werk gespring.
As deel van die veldtog, wat spesifiek op padveiligheid fokus, gaan nagenoeg 100 AfriForum-gemeenskapstrukture paaie in hul onderskeie dorpe opknap. Die plaaslike tak het die inisiatief geneem om strate te herverf en padtekens regoor Westonaria aan te bring.
Hulle het Woensdagoggend by die plaaslike Pick n Pay-inkopiesentrum begin. Hoërskool Westonaria en die Westonaria Munisipaliteit is volgende.
“Probleme word nie opgelos deur daaroor te praat nie, maar deur iets daadwerkliks daaraan te doen. Ons beoog om tydens die veldtog self stoptekens, spoedhobbels en padtekens op te rig asook om sypaadjies te verf en katogies aan te bring,” het Wico Swanepoel, AfriForum se koördineerder vir Gauteng-Suid vertel.
Hy meen ook dit is nie volhoubaar om net verdere agteruitgang te keer nie; daar moet aan vooruitgang gewerk word.
“Ons doen dit vir die gemeenskap, en ons glo dit sal ‘n positiewe impak op alle padgebruikers hê,” het Sannie Kruger, lid van AfrForum Westonaria vertel.
Die organisasie vertrou dat die veldtog vrugte sal afwerp en ook bydra tot die welstand van die dorp.
Lees Ook:
‘n Oorwinning vir AfriForum Westonaria
AfriForum se W’aria-tak word groen








