Slang eis amper seun se vinger
'My hele hand en arm het onmiddellik begin brand en opswel. My hand het selfs blou geraak.'
Alexander de Jager, 19, ook bekend as Randfontein se Steve Irwin, is onlangs deur ‘n nagadder gepik.
Vir Alexander was Maandag, 7 November ‘n dag soos enige ander. Min het hy geweet wat wag.
“Ek en ‘n vriend het verby ‘n veld geloop, en toe ek weer sien kom daar ‘n slang uit die veld en seil oor die pad. Ek het dit dadelik as ‘n nagadder geïdentifiseer,” het hy vertel.
Gelukkig het hy oor verskillende soorte slange nagelees en geweet dat dié soort glo baie kalm en rustig is.
“Ek het hom opgetel en hom hanteer. Hy was verbasend rustig terwyl hy om my arm en hand gekrul het,” het Alexander gesê.
Kort daarna het die slang onrustig geraak en hom aan die buitekant van sy regterduim gepik.
“My hele hand en arm het onmiddellik begin brand en opswel. My hand het selfs blou geraak. Ons is dadelik na die naaste kliniek toe en hulle het my na ‘n hospitaal verwys. Ek het gedink ek gaan my vinger verloor,” het hy vertel.
Toe hulle omtrent twee uur na die insident by die hospitaal aangekom het, is hy dadelik op drie drups geplaas aangesien hy kouekoors gekry het en verskriklik moeg begin raak het. Ses uur later is hy met teengif ingespuit, wat volgens Alexander nie regtig nodig was nie.

Teen 1vm die volgende oggend was hy verlig om te hoor dat hy kon huis toe gaan.
Dit was nie die eerste keer dat ‘n slang hom gepik het nie. Hy het vertel dat hy al deur verskeie ander slange soos mol- en huisslange asook ‘n tipe Anaconda gepik is wat glo nie so gevaarlik is nie.
“Hierdie is die gevaarlikste slang wat my tot dusver gepik het; dit terwyl ek al met talle ander slange soos pofadders en rinkhalse, en met skerpioene en spinnekoppe, onder andere, gewerk het,” het hy gesê.
Hy is al op sy hand, nek, gesig en arms gepik.
“Ek sal sonder enige twyfel aanhou werk met hulle. ‘n Slang is banger vir jou as jy vir hom, daarom wil ek mense graag waarsku. Slange is belangrik vir ons ekosisteem, daarom moet hulle nooit doodgemaak word nie,” het hy vertel.
Alexander vermoed dat die nagadder deur iemand in die dorp aangehou is, en vermoedelik ontsnap het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



