Op Vrydag, 1 September het Rammies hul staal tydens hul jaarlikse entrepreneursmark gewys.
Die Departement van Onderwys vereis dat al die Graad 7-leerders aan die einde van die derde kwartaal ‘n entrepreneursmark as deel van die vak Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW) hou.

“Elke leerder moes ‘n produk of diens kies, beplan, bemark en uitvoer. Hierdie projek is deur die EBW-vakonderwyser, Hannes Muller bestuur,” het skoolwoordvoerder Annie Nolan gesê. Spanwerk is aangemoedig aangesien die leerders in groepe kon saamwerk.
Volgens Annie is die projek nie net vir die broodnodige punte gedoen nie, maar ook vir al die wins wat gemaak is. Die Graad 7’s het boonop vaardighede soos kommunikasie, bemarking, beplanning, begroting en bestuur baasgeraak.
Die stalletjies het gesorg vir vermaak en genot vir oud en jonk en het smullekker kos, lekkers vir die soettand en woelige speletjies aangebied. Daar was ook ‘n spookhuis onder die skoolsaal waar leerders in lang rye gestaan en wag het om te wys hulle skrik nie vir koue pampoen nie. Die gees was aansteeklik en ouers, oumas, oupas, onderwysers en leerders het in die jolyt gedeel.
Na die afloop van die entrepreneursdag is al die berekeninge gedoen en die wins het gestrek van R20 tot ‘n stewige R3 000.
Annie het aan die Herald vertel dat dit duidelik was dat die leerders besonderse entrepreneurs is en dat Rammies ‘n hele paar besigheidsmanne en -dames gaan oplewer.
Hannes was tevrede dat die dag ‘n reuse sukses was en het gesê dat die leerders klaar begin uitsien na en beplan vir volgende jaar se entrepreneursmark.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na [email protected] (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Roodepoort Record
Krugersdorp News
Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



