‘n Inwoner van Bootha-plotte sit met ‘n probleem wat niksvermoedendes hul lewens kan kos.
Tydens die verwoestende storm verlede week (Dinsdag, 10 Oktober) het ‘n ankerpaal in sy erf omgewaai. Volgens die 78-jarige Nick Taljaard is daar kragdrade aan dié houtkragpaal waarmee krag eers na ‘n pompkamer op sy kleinhoewe en vandaar na sy huis gevoer word. Die oorspronklike kragverdeelbord is in die pompkamer. Hoewel hy tans kragtoevoer het, vrees hy dat iemand aan die kabels wat op die grond lê, kan raak en doodgeskok word. Hy is veral besorg oor sy kleinkinders se veiligheid.
Lees ook: Storm devastates West Rand, R’fontein spared?

Taljaard het verduidelik dat toe die krag tydens die storm skielik afgegaan het, het hulle die munisipaliteit gebel en dit onder hul aandag gebring. Eers nadat die storm verby is, het hy opgelet dat ‘n houtkragpaal met kragkabels en al in sy erf lê. Die Taljaards het dit weer onder die munisipaliteit se aandag gebring.
Munisipale werkers het volgens Taljaard ‘n dag later die kragtoevoer herstel, en gewaarsku dat almal van die paal en kabels moes wegbly.

“Hulle het gesê hulle sou die volgende dag die paal kom vervang en alhoewel hulle weer opgedaag het, is daar vir ons gesê hulle kan dit eers die volgende dag (Donderdag) sou doen. Dit is die laaste wat ons van hulle gesien of gehoor het. Dit is al klaar weer Dinsdag,” het ‘n ontevrede Taljaard gesê.
Wat Taljaard die meeste pla is die groot gevaar wat die kabels vir hom, sy vrou, familie, kleinkinders en tuinwerker inhou.
“Dit is lewendige hoëspanning-kragdrade. As iemand daaraan sou raak, is hy of sy dood. Die tuinwerker is elke dag hier en as hy iets moet oorkom, sal ek daarvoor verantwoordelik gehou word,” het hy gesê.
Aangesien hul kleinkinders elke naweek vir hulle kom kuier, is hy bekommerd dat die probleem nie betyds opgelos sal word nie.

“Mens kan nie die kinders heeltyd dophou of raai waar hulle is nie. Sê nou maar iets gebeur met hulle?” het hy radeloos gevra.
Alwyn van Tonder, raadslid in die area het gesê, “Ons is bewus van die situasie. Dit is tydelik beveilig. Daar sal binnekort daaraan aandag gegee word. Ons het ook geweldig baie voorvalle van kabeldiefstal en die span van die elektrisiteitafdeling is onder groot druk om die dorp se krag aan te hou.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Roodepoort Record
Krugersdorp News
Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



