Groentetuin van hoop
Ds Henning Rademeyer het vertel dat hulle volgens hul visie 'n gestuurde gemeente is, en dat hy al lankal 'n droom vir ‘n groentetuin gehad het.
Die NG Kerk Randfontein-Noord wil hoop bring deur hul groentetuin.
Dominee Henning Rademeyer het vertel dat hulle volgens hul visie ‘n gestuurde gemeente is, en dat hy al lankal ‘n droom vir ‘n groentetuin gehad het.
Ons leef nie vir onsself nie, ons lewe vir mekaar en vir die dorp. Ons wil regtig ‘n verskil maak op die plekke waar ons is,” het Henning vertel.
In 2020 het hulle planne begin beraam vir die groentetuin en hulle het die plan vir die tuin aan die gemeente voorgelê. Skielik het skenkings soos watertenks, plantjies en waterpype begin instroom.
Henning het verduidelik dat die tuin se doel is om hoop te bring – in die gemeente en in Randfontein.
“Verlede jaar was moeilik met Covid; mense was depressief en moedeloos, en dit het gelyk of dit inmekaarval. Ons het die kerk opgegradeer en sommige van die materiaal hergebruik om die groentetuin te maak.”

Jan Taljaard en Hein Fourie behartig self die projek om die groentetuin uit te brei. Hulle is tweekeer ‘n week by die kerk besig met die tuin en om aan te bou.
Op Sondae plaas ons kratte met groente by die ingangsportaal van die kerk. Die mense wat daarvan neem kan besluit of hulle geld in ‘n bottel by die deur wil plaas. Daardie geld word weer vir die groentetuin of vir ons diens van barmhartigheid gebruik.”
Henning het verduidelik dat die groente wat hulle uitdeel ook mense se gemoedere verander en hoop bring.
“Mense se harte oor die projek is baie goed. Hulle sal ekstra geld bydra om die projek aan die gang te hou. Ons het verlede Desember begin oes en uitdeel aan mense wat dit nodig het.
Jan en Hein is tans besig met voorbereiding vir wat nog gedoen gaan word. Hulle kan nie plant nie maar berei die beddings voor en bou aan.



