Unieke poppe in ‘n wêreld vol tegnologie
Elke pop word met die hand geborduur en kan as erfstuk oorgedra word.
Onthou jy nog die dae van lappoppe en hoe hulle vir ewig ‘n spesiale plek in ‘n kind se hart gehad het?
Twee plaaslike vroue maak unieke poppe wat vir ewig gehou en gekoester kan word.
Heirloomie-eienaars Janine Steenkamp en Marica Classen maak poppe met die hand, en elkeen is uniek. “Die poppe word van 100%-katoen gemaak en met ‘ball fibre’ gevul,” het Janine vertel.
Die gesigte van die poppe word met die hand geborduur en die klere word van kwiltkatoen gemaak.

Volgens Janine het hulle hierdie poppe begin maak omdat hulle lief is vir naaldwerk, en graag nuwe dinge uitdink en skep. “Ons wou nie tradisionele lappoppe maak nie en het begin speel deur verskillende patrone te maak. Na ongeveer twee jaar het ons op dié patroon besluit.”
Sy het vertel dat hulle kinders wil inspireer om in ‘n wêreld vol tegnologie nog met poppe te speel, veral met so ‘n spesiale pop wat ‘n erfstuk kan word.
Volgens Janine duur dit ongeveer drie dae om een pop te maak – van die uitsnyproses tot die afronding. Hulle poppe is uniek omdat daar net een van ‘n soort gemaak word.
Vir meer inligting kontak Janine by 084 837 4173.



