Sing, sing, sing… Dit is waarvan Neville hou
Neville Ferreira is 'n plaaslike kunstenaar wat sy ervaring in die musiekbedryf met die publiek deel.

Neville Ferreira (42) het in ‘n eksklusiewe onderhoud sy jarelange ervaring in die musiekbedryf met die Randfontein Herald gedeel.
Neville is al meer as 20 jaar in die musiekbedryf, waarvan hy al 13 jaar in Randfontein betrokke is. Hy het verder vertel hoe sy liefde vir die musiekbedryf begin het.
“My pa het tydens my 16de verjaardag sy ou HiFi gevat en musiek gespeel. Dis toe dat die gogga my gebyt het. Ek het vroeër karaoke gedoen waarna ek musiek begin speel het. Later het dit uiteindelik in vertonings ontaard.
Ek was al op baie TV-programme, insluitend Kom Ons Karaoke, Musiek Paniek en Musiekbank. Ek het ook in die TV-reeks Donkerland verskyn,” het hy verduidelik.
Neville is ‘n voltydse vermaaklikheidster wat selfs as ‘n platejoggie optree. Hy het gesê hy is een van die min mense in die bedryf wat musiekvideo’s speel tydens sy optredes om die gehoor iets nuuts te bied.
“My liefde vir musiek is my grootste motivering. Wanneer mense met ‘n glimlag van my vertonings wegstap dan is ek op my gelukkigste,” het hy gesê.
Hy het verder raad gegee aan diegene wat in dieselfde bedryf is.
“Jy is net so goed soos jou laaste vertoning, so sing of dit jou laaste aand op die verhoog gaan wees. Klim op daai verhoog en sing. Sit die harde werk in en wees anders as die ander kustenaars in die bedryf.”