Motorfietsklubs gee terug aan RAM
Minderbevoorregte leerders van Laerskool Randfontein is uit hul sokkies bederf met geskenke danksy verskeie motorfietsklubs.

Dit was ‘n vroeë Kersfees vir die minderbevoorregte leerders van Laerskool Randfontein toe Kersvaders op ysterperde by die skool, op Dinsdag, 29 November, kom besoek aflê het.


Daar was talle opgewonde leerders wat op die pawiljoen gesit en wag het om die motorfietsryers te sien. Toe die gebrul van die motofietse gehoor is, het die kinders hul harte uit geskreeu van blydskap.
Die motorfietsklubs wat betrokke was, was Naughty By Nature, Scream en Tenaz.


Gert Krog, een van die organiseerders het vertel dat ander Wes-Randse motorfietsklubs ook betrokke was by die uitreik en dat dit die 10de jaar is dat hulle die leerders so bederf.
Geskenke is tydens die Santa Run ingesamel wat op Saterdag, 26 November by die Randfontein Rugbyklub gehou was.


Juffrou Diane Matthews het vir die motorfietsryers en almal betrokke met hierdie projek bedank en sy het selfs ‘n heerlike tyd gehad toe sy op Gert se motorfiets om die veld gery het.


Sommige van die leerders het ook ‘n rit op ‘n motorfiets om die veld geniet.
