Dit gaan goed met dogtertjie wat aan seldsame veltoestand ly
'Sy kom oor die weg met enigiemand en sy het 'n paar maats by die skool. Ek is so dankbaar hul aanvaar haar.'
‘Tans gaan dit goed met haar,’ het Jana Harmse, ma van Kendra – die sewejarige dogtertjie wat aan ‘n seldsame veltoestand ly, gesê.
Kendra is gebore met Giant nevus – ‘n veltoestand wat gekenmerk word deur ‘n donker vlek met abnomale haargroei. Dié nevus is op Kendra se gesig en sy het al talle operasies ondergaan waartydens die nevus verwyder en vel oorgeplant is.
Haar ma het vertel dat haar dogter nog elke maand haar behandeling in Melrose kry.
Die dame wat die behandeling gee is baie tervrede met haar gesig en sê die kleur lyk goed. Haar vel is met elke behandeling sagter en natuurlik hou Kendra baie van die lekker bederf.”
In 2022 was hulle by ‘n dokter wat haar geondersoek en voorgestel het om ‘ballonne’ in te plant om die vel te rek. Hulle wag tans nog vir terugvoer.
Sy is mal oor dans en is kunstig met haar hande. Sy is ook lief om te sing.

“Kendra voel maar nog selfbewus as mense nou en dan vir haar staar. Sy kom oor die weg met enigiemand en sy het ‘n paar maats by die skool. Ek is so dankbaar hul aanvaar haar.
Ek hoop en bid net vir wanneer sy haar volgende operasie gaan kry dat kinders nie weer sal begin om haar te spot nie want sy is reeds bang vir die operasie.”
Haar ma beplan om vir Kendra see toe te vat sodat sy kan lag en speel voor die operasie.
“Ek glo en vertrou alles sal gebeur soos God dit beplan. Ek weet Hy sal haar bewaar en genees.”
In Maart verlede jaar het die Herald ‘n lootjie-fondsinsameling vir Kendra gedoen. Die volle opbrengs van die Herald se lootjieverkope was aan Kendra geskenk om bietjie te help om die nodige mediese kostes te dek.
‘n Anonieme inwoner het die prys geskenk – ‘n splinternuwe rooi Toyota 86 GT-modelmotor. Dié modelmotor se waarde was toe ongeveer R2 500 en sterk in aanvraag.
• Lees ook: Splinternuwe rooi Toyota 86 GT-modelmotor kry ‘n eienaar



