DBV stel nuwe bestuurder voor
Naomi de Beer is reg om die Randwes DBV na nuwe hoogtes te neem.
Die Randwes Dierebeskermingsvereniging (DBV) is trots om hul nuwe bestuurder aan die gemeenskap bekend te stel wat beplan om die dorp se DBV na nuwe hoogtes te neem.
Die 49-jarige Naomi de Beer het vertel dat sy aanvanklik op die DBV se komitee was en sy het soveel tyd by die tak spandeer dat die pos as bestuurder vir haar aangebied is.
“Die doel wat ek het vir die Randwes DBV is om dit weer op die kaart te sit want almal het ‘n negatiewe reaksie teenoor die DBV [die Randfontein- en Westonaria-tak]. Ons mik daarna om alles weer reg te kry en die plek uit te brei.”
Lees ook: Randgate Apteek ontvang toekenning vanaf RandWes DBV
Naomi se liefde vir diere kom van kleintyd af.
“Die belangrikse deel van bestuurder wees is om na die welstand van die diere en alles wat daarmee gepaard gaan om te sien; dat hul versorg en gesond is. Ook, om met die staf te werk en die daaglikse take van ‘n kantoor te verrig.”
Sy het beskryf dat dit wonderlik voel om aangestel te word.
Lees ook: Randfontein Herald kry toekenning van DBV
“Dit was nog altyd my droom om my eie nie-winsgewende organisasie te hê en of na bejaardes te kyk of kinders te leer.”
Naomi het verduidelik dat hul ook beplan om ‘n opvoedkundige sentrum oop te maak waar kinders kan leer hoe om diere te versorg.
Tans is daar 26 honde en 15 katte by die Randfontein DBV wat huise soek.
Een van daardie diere is Miya, ‘n twee-jarige worshond wat baie liefdevol, kalm en rustig is. Daar is ook die ses-jarige reun met die naam Bruno – ‘n onbekende kruising wat kalm en liefdevol is en hou van aandag.
Teddy, ‘n vier-maande oue Rottweiler-kruising is ook opsoek na ‘n huis, sy is vreeslik spelerig en liefdevol. Luca is ‘n vyf-jarige Golden Retriever-kruising – hy hou ongelukkig nie van ander honde nie maar is baie liefdevol teenoor mense.