Local newsUpdate

Rotte en rommel oral by Randgate-huis

Sylvia Burger is bekommerd oor 'n verlate gebou wat die buurt beïnvloed.

‘n Huis in Barendstraat, Randgate het alweer die nuus gehaal vir al die verkeerde redes.

Sylvia Burger woon al twee jaar in Randgate en verduidelik hoe verlate en verval die huis by nommer 130 is. Sy vertel ook dat die rotte in die vervalle eiendom skrikwekkend is en word daar al hoe meer gesien hoe hulle by die perseel, asook in die nabygeleë strate rondhardloop. En wanneer die wind opduik, waai daar vuilgoed oral, selfs na aangrensende huise. Sylvia het intussen wel die besluit geneem om elke Sondag die vuilgoed op te tel en te verwyder om die buurt netjies en skoon te hou, maar as jy weer kyk, word daar rommel gestrooi en opgegaar.

Die ingang van die huis is met rommel toegepak.

Nog ‘n kommerwekkende probleem is die teenwoordigheid van plakkers wat die perseel glo as ‘n hawe gebruik.

• Lees ook: Planne in plek vir verlate huis in Randgate

“Ek het van die hoewe afgekom om hier in Randgate te bly maar wil nie meer nie. Elke keer wanneer ek kuiermense verwag, vra hulle my oor die verlate huis en sê ‘kyk hoe lyk die dorp’.”

Burger is wel nie die eerste inwoner wat oor die einste huis kla nie. Die Randfontein Herald het al menidge kere oor die huis in die verlede geskryf.

Een van die vele hope rommel wat op die perseel lê.

Reeds in 2015 is daar berig dat daar planne in plek was om die huis te beveilig en dat die raadslid op daardie stadium al ‘n hele ruk probeer om die oogseer op te los. Die leë huis het die eerste keer in die kollig gekom toe daar by ‘n vrou se woning langs die leë huis twee jaar terug ingebreek is. Volgens die inwoner is die verlate huis toe al ‘n geruime tyd leeg. Die Herald het ook in die 26 April 2013 uitgawe met opskrif Abandoned house attracts criminals oor die verlate huis berig en dat dit ‘n broeiplek vir kriminele en kwaaddoeners is. Skaars ‘n paar weke later, op 9 Mei, het die huis weens onbekende redes afgebrand.

Phillip Montshiwa, woordvoerder vir die RandWes Plaaslike Munisipaliteit, het slegs voorgestel dat die saak weereens vir die wyk se raadslid aangestuur word. Volgens hom kan die raadslid dan die eienaar opspoor.

Volgens Burger is die huis in die boedel vandat die eienaar van die perseel glo oorlede is en alhoewel sy meer wou uitvind, het die POPI-wet haar verhoed om verdere informasie te kry.

Enigiemand met meer inligting is welkom om die Herald by 011 693 3671 te kontak of ‘n e-pos na dominiqued@caxton.co.za te stuur.

Related Articles

 
Back to top button