Vanjaar se pampoen- en tamatiefees een vir die boeke
Die Pampoen- en Tamatiefees van 2024 het Randfontein-inwoners weereens bymekaar gebring.

153 Bediening het op 2 Maart ‘n lekker Pampoen- en Tamatiefees gehou met verskeie stalletjies wat inwoners se aandag getrek het.
Hekke het reeds 08:00 oopgevlieg vir inwoners om ‘n vermaaklike dag in die son te geniet. Inwoners het ook die geleentheid gehad om musiek deur verskeie kunstenaars te aanskou.

Elsje Schoeman het haar besigheid, Plaasmeisie Tuisgebak, op hierdie dag verteenwoordig. Elsje vertel dat sy nie net haar besigheid op markdae uitstal nie, maar sy verkoop graag haar tuisgebakte lekkernye by Tony’s Meat Market en Sungate. Sy bak al haar lekkernye weekliks.
153 Bediening het ook ‘n stal vir die gemeenskap gehad. Dawid en Annetjie Visser het varsgemaakte hamburgers verkoop. Annetjie het vertel dat hierdie hamburgers een van die lekkerste in die dorp is. Die hamburger bestaan uit ‘n vetkoek met ‘n ‘boere patty’.

Lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) was ook teenwoordig met voorsitter Odette Ucar wat verduidelik het dat potjiekos aan die gemeenskap verkoop is om fondse vir patrolleerders in te samel.

Volgens Odette het die GPF op 25 Oktober 2023 ontbind en daarom probeer nuwe lede die forum tot nuut te bring deur ‘n fondsinsameling te hou en vrywilligers te roep.

Marry Benzelo het verskeie pette, speelgoed en juwele verkoop. Sy toer ook graag die hele Suid-Afrika.

John Annandale Senior en John Annandale Junior wat die stigters van Chill and Denim Co is, het denim baadjies, jasse en meer verkoop. Van die jasse is selfs ingevoer.

Boeta Graham het hierdie dag gebruik om met sy antieke motor te spog. Die rooi geverfde Pontiac Strato Chief is in 1959 deur Boeta se pa aangekoop. Boeta het vertel dat hy grootgeword het met die kar en dat die kar ongeveer 900 000 myle (1 448 409km) op die klok het. Boeta het bygevoer dat hy die kar self diens en dat die kar gebruik word vir troues en matriekafskeid-ritte.

Marinda Troskie het die fees bygewoon en vertel dat dit ‘n wonderlike wegbreek van die werklikheid is.
“’n Mens kry nie altyd hierdie samesyn nie. Dit is lekker om te ontsnap van realiteit en om ‘n lekker blikbeker koffie te drink,” het Marinda gesê.


