Local news

Vegters vir diere en mense in nood

Plaaslike organisasie reik uit na mense in nood sowel as hulle dierekinders.

Animal Aid Warriors het onlangs uitgereik na die dieregemeenskap, asook mense in nood.

Naomi de Beer, stigter van Animal Aid Warriors, het verduidelik sy het ‘n groot passie vir diere.

“Ons wil die mense help sodat hulle hul diere kan help. Ons wil nie hulle diere wegvat nie want vir baie van hulle is dit die enigste geluk in hul lewe,” sê Naomi.

Sy het genoem hulle deel baie keer kospakkies en benodighede uit aan minderbevoorregtes, asook kos vir die diere.

Wanneer ‘n persoon hulle kontak en vra vir mediese behandeling vir hul troeteldiere, reik hulle ook uit. Verder verskaf hulle sterilisasies en inentings teen ‘n lae prys aan mense. Sy het bygevoeg hulle probeer ook om ‘n mikroskyfie vir die dier in te sit. Sy noem dat baie mense nie op Facebook is nie en daarom kan ongeveer 70% van die diere nie by hulle uitkom nie.

Naomi de Beer saam met twee hondjies waarna hulle uitgereik het. Foto verskaf.

Sy sê die mense op hulle lys waarna hulle uitreik is mense wat baie lief is vir hul diere, en dat ‘dit net as gevolg van omstandighede is dat hulle bietjie hulp nodig het’.

“Dit is ‘n dier se reg dat sy eienaar hom reg grootmaak. Hulle is ons verantwoordelikheid.”

Verlede maand het Animal Aid Warriors 69 pakkies hondekos aan minderbevoorregtes uitgedeel. Sy het verduidelik dit als het begin met donasies wat hulle ontvang het, wat hulle toe aan ander uitgegee het.

“Mense het ‘n stem om te praat, diere het nie,” het Naomi gesê.

Sy het genoem daar is bitter min instansies wat na diere uitreik daarom wil hulle ook bydrae.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button