Voormalige verslaafde praat uit oor sy 18-jaarlange dwelmstryd
Voormalige verslaafde deel sy storie oor dwelmmisbruik en hoe hy die stryd oorwin het.
Voormalige dwelmverslaafde Michiel Jonker (44), het uitgepraat uit oor sy 18-jaarlange stryd en hoe hy dit uiteindelik oorwin het.
Volgens Jonker het sy dwelmgewoontes in 2000 begin nadat hy die verkeerde vriende gemaak het. Hy het vertel dat hy gereeld uitgegaan het na dansplekke waar daar toegang tot dwelms was. Hy het heroïen, crystal meth (Tik), Ecstasy en Cat begin gebruik en het vir agt jaar lank slegs dwelms gesnuif.
Jonker het bygevoeg dat sy straatnaam ‘Guppy’ was. Hy beweer dat hy dwelms begin gebruik het weens sy emosionele toestand in daardie tyd.
“Ek het ses keer op my pa afgekom nadat hy selfmoord probeer pleeg het. Ek het selfs vier keer probeer my eie lewe neem. Nadat al hierdie emosies oor my gespoel het, het ek besluit dat dwelms die enigste genesingsmiddel sal wees vir my hartseer. Dit is wat meeste verslaafdes gebruik as ‘n verskoning,” het Jonker gesê.
Jonker het eendag ‘n vrou genader wat toegang tot dwelms gehad het wat in die bloedstroom ingespuit word. Hy het geweet dat hierdie vorm van dwelms vinniger deur die sisteem werk en het die vrou gevra om hom te spuit.
“Toe ek self begin spuit het, was dit verby,” het Jonker uitgedruk.
Verder het hy vertel dat hy haweloos was vir meer as ‘n jaar en dat hy selfs in ‘n boom gebly het, en op ‘n ander stadium in ‘n dreinpyp.
“Dit was wat jy noem ‘tough love’. Ek was haweloos omdat ‘n geliefde my nie my in haar huis wou toelaat nie. Sy het my wel steeds kos gegee.”
Nadat Jonker om hulp gesoek het by sy suster, het hy steeds ‘n naald in sy voet gehad. Hy het vertel dat hy vir sy suster gevra het om hom te help voordat dit te laat is.
“Ek het vir haar gesê as sy my nie in daardie oomblik na ‘n rehabilitasiesentrum toe vat nie, gaan sy my oor ‘n half uur nooit weer sien nie.”
Jonker het beweer dat hy vir twee getraumatiseerde weke in die tronk was om sy verslawing af te water. Daarna het hy by Betel South Africa aangesluit waar hy ‘n jaar sonder dwelms spandeer het. In 2016, nadat sy ma gesterf het, het hy besluit om sy lewe te neem deur ‘n oordoses Tik te vat.
Jonker het vertel dat hy daarna tot ‘n gevolgetrekking gekom het: Hy het God in sy lewe nodig.
Hy is huidiglik meer as ses jaar skoon.
“Jou onderbewussyn is jou grootste vyand. Sodra iets talm in jou onderbewussyn dan maak dit die misbruik van dwelms baie makliker,” het Jonker gewaarsku.
Besoek gerus Betel se webtuiste vir hulp met jou verslawing.



