Dwelmverslawing: Dit is my storie sê 31-jarige
Voormalige verslaafde moedig ander aan om hul dwelmstryd aan te pak.

Tapelo David Napo (31) is nie net ‘n gerehabiliteerde verslaafde nie, maar ook ‘n lid van die Alcoholics Anonymous (AA) gemeenskapsgroep in Toekomsrus.
Napo is al vir meer as vyf jaar skoon, maar hy sê sy dwelmmisbruik was ‘n oneindige stryd. Op die ouderdom van 11 het Napo sy eerste dwelmmiddel ingeneem en volgens hom het hy dwelms begin gebruik as gevolg van groepsdruk.
“Ek het ‘n vriend gehad wie se pa verslaaf was aan mandrax. Sy pa het ons twee altyd gestuur om die dwelms te koop. Ons het die pille in die helfte gesny en gedrink, en die ander helfte vir sy pa gegee,” het hy gebieg.
Hierdie sou die begin van Napo se 15-jaarlange dwelmstryd wees. Hy het gedurende hierdie tyd verskeie dwelms ingeneem insluitend Tik, heroïen en selfs petrol of verf om ‘n paar te noem.
In 2011 het Napo tronk toe gegaan vir ‘n rooftog. In 2018 het hy ook ‘n vriend gehad wat ‘n rehabilitasieprogram voltooi het. Hierdie vriend het vir Napo oortuig om die program te probeer. Hy het dus na sy maatskaplike werker toe gegaan om hom by die rehabilitasiesentrum in te boek. Op 10 November 2018 het Napo dwelms gelos.
Hy verduidelik dat dwelms ‘n negatiewe impak op sy lewe gehad hetsy fisies, sielkundig en geestelik.
“Ek kon nooit ‘n verhouding met my pa bou nie as gevolg van my dwelmverslawing. Ek het ook swak presteer in my skoolloopbaan,” het hy gesê.
Napo is ook bekommerd oor die groot invloed wat dwelms op die jeug het.
“Dit is huidiglik ‘n probleem in Randfontein-gemeenskappe. Verslaafdes moet self die keuse maak om op te hou. Ons kan dalk nie mense dwing om dwelms te los nie, want hul sal dwelms in die hande kry op een of ander manier maar ons kan hul moed in praat, ondersteun en probeer te oorheed. Dit moet ‘n vrywillige keuse wees om op te hou,” het hy afgesluit.
Stigter van die AA-groep, Faizel Bhana, bevestig dat dwelmmisbruik veral ‘n probleem in die Toekomsrus-gemeenskap is. Daarom het hy besluit om die groep te stig om verslaafdes te help.
Indien daar belangstelling oor die groep getoon word, kontak Bhana by 081 362 4886 of Napo by 069 176 6247.
Die groep vergader Maandae, Woensdae en Vrydae tussen 17:30 en 19:30 by die Nazarene Kerk in Toekomsrus.
Bhana het verklaar dat alle verslaafdes welkom is.